Nat naweek vir Wes-, Oos-Kaap

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Enkele weke nadat ontwrigtende reën en vloede die Wes-Kaap en Oos-Kaap getref het, word swaar reën wéér vir die twee provinsies voorspel. Kapenaars kan ook swaar donderstorms die naweek te wagte wees.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Vrydag gesê ’n afsny-laagdrukstelsel is in die proses om oor die suidelike Atlantiese Oseaan, suidwes van die Wes-Kaap, te ontwikkel.

Hierdie stelsel is vinnig aan’t ontwikkel en sal na verwagting reeds vanaand swaar reën in die Weskus meebring.

Wydverspreide reënbuie en donderbuie kan Saterdag oor dele van die Wes-Kaap, waaronder die Kaapse Wynland, Overberg, Tuinroete en die sentrale Karoo, asook in die Oos-Kaap verwag word.

Die weerdiens waarsku dat die suidelike dele van die Noord-Kaap ook deur hewige storms geraak kan word voordat die onweer Sondag ooswaarts sal skuif.

“Die afsnylaagtepunt sal gedurende die naweek vinnig toeneem namate dit ooswaarts migreer. Teen Sondag sal die meeste van die donderstorms oor die Wes- en Noord-Kaap opgeklaar het, met die fokus wat verskuif na die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, waar verdere reënval na verwagting sal voortduur.”

Numeriese modelle van weervoorspellings dui op 100 mm of meer reënval binne ’n 24-uur-tydperk vir sommige plekke. ’n Oranje vlak 6-waarskuwing teen swaar reën is gevolglik vir dele van die Oos-Kaap uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.