‘Nathi kan sy vlag elders gaan hys’

(Foto: Cyril Ramaphosa/Twitter)

Die 100 m-hoë vlagpaal wat die departement van sport, kuns en kultuur vir R22 miljoen wil oprig, is ʼn klap in die gesig van diegene in die kunstebedryf en sportsektor, van wie baie steeds sukkel om liggaam en siel bymekaar te hou weens die vernietigende inperkingsregulasies.

“Ek is absoluut verstom en gewalg deur die feit dat ʼn departement wat nie verantwoording kan doen nie vir die R300 miljoen wat verlede jaar gesteel is, nou ʼn vlagpaal wil opsit,” sê die bekende vermaaklikheidskunstenaar Lizz Meiring.

Meiring het verwys na die R300 miljoen wat die Nasionale Kunsteraad (NAC) vroeër as noodfinansiering aan die kunstebedryf bewillig het – terwyl talle vrae oor die besteding daarvan onbeantwoord bly.

“Dit is weereens ʼn teken dat ons minister [Nathi Mthethwa] ʼn totale idioot is en geensins omgee vir sport, kuns of kultuur nie,” sê Meiring.

“Ek vind dit absoluut verregaande en skreiend.”

Lizz Meiring. (Foto: Robert Hamblin)

Volgens die departement gaan die reusevlag en vlagpaal van meer as 100 m hoog eindelik ook ʼn nasionale landmerk en toeristeaantreklikheid word, maar kenners sê die minister is uit voeling met die werklikheid as hy dink ʼn vlagpaal gaan dié uitkomste hê.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by die burgerregtegroep AfriForum, sê ook die geld kan veel beter aangewend word.

“Dit lyk na net nog ʼn wit olifant, ʼn pleister wat op ʼn kraak geplak word. Dit is mooi woorde wat eindelik niks teweeg bring nie,” sê Van Zyl.

Hy sê die geld kan veel eerder gebruik word vir byvoorbeeld die opknapping van museums, die bevordering van skryfwerk in die verskillende landstale of om kunstenaars van oor die spektrum by te staan.

“Dit lyk nie of die departement sy geld slim bestee nie.

“Ek sou aanneem dat jy so ʼn projek aanpak wanneer jy te veel geld het wat oorbly nadat jy alles anders reeds gedoen het,” sê Van Zyl.

“Dit lyk nie soos ʼn plan wat deur ʼn lang proses van dink en beplanning gegaan het nie.”

Van Zyl sê as die departement ʼn behoorlike verduideliking kan gee van hoe die vlag byvoorbeeld nasiebou gaan help bewerkstellig, dit dalk ʼn meer werkbare plan kan wees.

(Argieffoto: Unsplash)

Die oud-Springbok en kommentator Kobus Wiese sê in ʼn land waar naastenby 40% van mense sonder werk sit, is dit “verstommend” dat die regering ʼn projek soos die vlagmonument oorweeg.

“Daar is mense wat nie genoeg kos het nie, paaie val uitmekaar, daar is bedrog en diefstal … dan oorweeg hulle só iets?

“Bou skole. Bou hospitale. Gee mense kos en skep werk.”

Wiese sê hoewel hy nie negatief wil klink nie, moet die weldeurdagtheid van die plan bevraagteken word. Hy sê in die sportsektor is daar ook ʼn groot behoefte aan ontwikkeling en geld kan daarvoor bewillig word.

“Sport is ʼn geweldige belangrike faktor van menswees. Sport leer jongmense waardes soos dissipline, respek, samehorigheid en ʼn gesonde lewe – natuurlik moet sport ontwikkel word.

“Sit dan eerder die R22 miljoen in sportontwikkeling. Wat gaan ʼn vlagpaal help?”

Wiese sê diegene op regeringsvlak moet wakker skrik en vir die mense van Suid-Afrika begin werk.

Kunstebedryf kry krummels

Luidens ʼn onlangse verslag van die South African Cultural Observatory (Saco), het die kreatiewe bedryf se regstreekse bydrae tot die BBP van R84,3 miljard in 2019 tot R42,2 miljard in 2020 gedaal – ʼn daling van 50%.

En hoewel daar verlede jaar ʼn mate van herstel was, staan die bedryf se bydrae tot die BBP in 2021 op R46,9 miljard, steeds 44% minder as in 2019.

Meiring sê miljoene mense leef onder die broodlyn en talle van hulle is in die uitvoerende kunstebedryf.

“Ons kan steeds net teen halwe kapasiteit speel, maar die teaters vra volle huur en die kaartjieverkoopsagentskappe vra hul volle fooi.

“Dit wys jou: Die minister het geen respek, geen ontsag en geen kennis van wat in die kunste aangaan nie.

“Hy behoort eintlik van moord aangekla te word, want dit is wat gebeur. Die mense in die kreatiewe bedryf sterf letterlik van die honger. En daar is net soveel probleme in sport.”

Die departement van sport, kuns en kultuur moet verduidelik hoe sy peperduur vlagpaal nasiebou onder honger, werklose en moedelose mense gaan aanmoedig. (Foto: Creative Survivor SA/Facebook)

Heloïse Denner, die VF Plus se woordvoerder oor sport, kuns en kultuur, sê ook as ʼn staatsdepartement wat reeds mank gaan aan geld beoog om ʼn vlagpaal van R22 miljoen op te rig, is dit duidelik hoe verkeerd sy prioriteite is.

“Dit wys ook waarom die departement, wie se primêre doel nasiebou is, hoegenaamd nie hierin slaag nie en waarom hy eerder uitsluit, marginaliseer, diskrimineer, verkleineer, verneder en wanbestee.”

Denner sê die regering stel ʼn hoë mikpunt – 100 meter hoog om presies te wees – maar hoe die vlagpaal trots en nasiebou moet bevorder onder werklose, honger en moedelose mense, is ʼn raaisel.

“Dit is eweneens ʼn klap in die gesig van duisende kunstenaars wat hard getref is tydens die pandemie en ʼn desperate stryd om oorlewing moes voer.

“Slegs krummels van die R300 miljoen-hulppakket wat kunstenaars deur hierdie tyd moes dra, het hulle bereik. Die res het in die sakke van korrupte kaders beland. Dit is ʼn skande.”

Denner sê die departement is nes die nasionale regering, ʼn “totale mislukking”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jean ·

So Cyril sit ‘n foto op sy Twitter waar die vlag onderstebo is

Strandloper ·

Nie verbaas nie. Dis n wedloop in die anc om te kyk wie is die mees veregande en onossel.

Kerrie ·

Kan n mens daai vlag en paal eet ? ….of ruil by die scrapyard vir broodgeld.

Lillian ·

Dis so absurd! Alles in hierdie land wat die sogenaamde regering uitdink, is net absurd en ‘n absolute mors van geld!

Misky ·

Lizz Meiring het dit die beste gesê: Nathi is ‘n totale idioot!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.