#NationalShutdown: Minstens 550 oor rits misdade aangekeer

Julius Malema, leier van die EFF (Foto: EFF/Twitter)

NatJoints, die nasionale gesamentlike operasionele intelligensiestruktuur, sê minstens 550 mense is Maandag tydens die EFF se betoging aangekeer vir verskeie misdade wat strek van openbare geweld tot intimidasie.

“Ons is tevrede met die manier waarop die geïntegreerde wetstoepasserontplooiings hul mag uitgevoer het om tot dusver wet en orde in die land te handhaaf,” sê brig. Athlenda Mathe, woordvoerder van NatJoints.

Deur die onderskeie ProvJoints deur die land het Natjoints saam met verskeie belanghebbendes en vennote gewerk om die maksimum mobilisering van hulpbronne te verseker en polisieteenwoordigheid te verskerp om wetteloosheid en kriminaliteit te voorkom.

“NatJoints berig graag dat hy sy belofte gestand gedoen het aan die inwoners van die land om seker te maak dat maatreëls in plek gestel word sodat ondernemings en dienste kan voortgaan met minimum voorvalle van kriminaliteit.”

Die vinnige reaksie deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ander wetstoepassingsagentskappe op opportunistiese misdadigers word geloof. “Die sekondêre ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, wat die polisie bygestaan het om noodsaaklike infrastruktuur soos grensposte, tolpaaie en hawens te beskerm, het ook vrug afgewerp.”

Die rol van privaat sekuriteit om hulpbronne te deel het ook ʼn groot rol gespeel om seker te maak dat wetstoepassers al hoe meer sigbaar kon wees, sê Mathe.

“Deur die SAPD se E2 (oë-en-ore)-projek het die sekuriteitsbedryf hulpbronne en handelswerktuie beskikbaar gemaak aan wetstoepassers.”

Lede van gemeenskapspolisiëringsforums (GPF), buurtwagte en ander gemeenskapstrukture word ook geloof vir hul ondersteunende rol. Die vervoerbedryf, veral die taxivereniging Santaco en die Nasionale Taxi-alliansie (NTI), word ook geloof.

“NatJoints wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om waardering uit te spreek dat die betoging in Pretoria op ʼn vreedsame en ordelike manier plaasgevind het. In die res van die land, waar diegene die wet oortree het, is daar opgetree,” voeg Mathe by.

Die NatJoints het teen 22:00 op 20 Maart 2023 meer as 550 betogers in hegtenis geneem op aanklagte wat strek van openbare geweld en intimidasie tot skade aan noodsaaklike infrastruktuur, diefstal en pogings tot plundery.

In Gauteng is 149 persone in hegtenis geneem; in die Noord-Kaap altesaam 95; in die Oos-Kaap is 80 betogers aangekeer en in die Vrystaat is 64 inhegtenisnemings gemaak.

“Die getal buitebande waarop daar landswyd beslag gelê is, bly op 24 300. Dit is buitebande wat strategies geplaas is vir misdade.”

NatJoints bedank die onderskeie belanghebbendes, lede van die publiek en ondernemings wat met wetstoepassers saamgewerk het om die wet te help onderhou.

Wetstoepassers monitor steeds die situasie landswyd. Gemeenskappe kan enige verdagte aktiwiteit aanmeld by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.