Navorsing: SA weermag kwesbaarder vir kuberaanvalle (as wat hy vermoed)

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is dalk kwesbaarder vir kuberaanvalle as wat hy vermoed, maar ʼn paar pasgemaakte ingrypings kan dié risiko verminder.

Navorsing deur dr. Kyle Bester, navorsingsielkundige en kubersekuriteit-opleidingspesialis aan die Universiteit Stellenbosch (US), het bevind dat die weermag dringend sy bewustheid oor kuberveiligheid moet opskerp sodat kuberaanvalle voorkom of getemper kan word.

Wêreldwyd word kuberaanvalle al hoe meer algemeen, veral sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie.

“Bewustheid van kubersekuriteit is nie net nodig vir die transformasie van die wyse waarop die weermag se organisatoriese kultuur tegnologie aanvaar nie, maar ook van hoe bedreigings beskou en uiteindelik getemper word,” sê hy.

Die weermag het volgens Bester ʼn belang in die kuberruim omdat dit die identifikasie van interne en eksterne teenmaatreëls moontlik maak, sy eie belange help beskerm en nasionale kuberveiligheid in stand hou.

Bester het as deel van sy tesis vir sy doktorsgraad in militêre wetenskap onderhoude gevoer met senior offisiere wat vir ʼn professionele militêre ontwikkelingskursus by die Suid-Afrikaanse Nasionale Verdedigingskollege ingeskryf was.

Hy het ook studente by die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Oorlogskollege gevra om ʼn vraelys te voltooi oor hul mening oor die deel van inligting, sekuriteitsoriëntasie, bewustheid van kuberveiligheid en kuberkultuur.

Beter beskerming nodig

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Suriyawut/Vecteezy)

Bester sê sommige van die offisiere is bewus van kuberbedreigings wat die weermag skade kan berokken en het dus hul veiligheidsgedrag begin aangepas.

Die probleem sluip egter by ander range in.

Weermagoffisiere het in hul onderhoude met Bester gesê dit is nie veilig om organisatoriese inligting op sosialemediaplatforms te deel nie, omdat dit die weermag aan die risiko van kuberaanvalle kan blootstel.

“Hulle meen ook dat hul persoonlike inligting belangrik is, wat kan beteken dat die onoorwoë uitruil van persoonlike data in die kuberruim hulle kwesbaar vir uitbuiting kan maak,” sê hy.

“Hulle is bewus van die belang van inligtingsekuriteit en die gevolge as daar nie aan die kubersekuriteitsriglyne in die organisasie voldoen word nie.”

Volgens Bester is praktyke met betrekking tot die deel van inligting wel ʼn bron van kommer omdat die inligting oor bedreigings nie noodwendig al die range in die weermag bereik nie. Dit bemoeilik die identifiserings en doeltreffende reaksie op ʼn bepaalde risiko.

Bester meen dat kennis van en opleiding in kubersekuriteitsbedreigings ʼn invloed kan hê op hoe die weermag sy aanlyn sekuriteitsgedrag interpreteer en aanpas; daarom is iets soos beleidsriglyne die ideale oplossing.

“Dit kan wel weens die SANW se voortgesette begrotingsbeperkings moeilik wees om ʼn pasgemaakte kubersekuriteitsopleidingsprogram vir die verskillende sekuriteitsvlakke in die organisasie te implementeer.”

Bester wys egter daarop dat die meeste rolspelers in die weermag wel die belang van kubersekuriteit begryp, veral omdat hulle saam met wetstoepassingsagentskappe en intelligensiedienste by kuberwaarneming betrokke is.

“Dit is egter steeds van kardinale belang dat alle militêre personeel oor die relevante sekuruteitsrisiko’s ingelig bly, asook oor moontlike bedreigings wat hulle in ʼn professionele of persoonlike konteks kan teëkom.”

Hy sê dit is ook van sleutelbelang om kubersekuriteit in die weermag in stand te hou, asook vir die inwerkingstelling van beleid en direktiewe.

“Meer bewustheid van kubersekuriteit is van die opperste belang omdat militêre offisiere kwesbaar is vir pogings van misdadige aanlyn operateurs om hulle te mislei of selfs te dwing om sensitiewe inligting oor operasionele aktiwiteite te deel. Hulle kan ook onwillekeurige of willekeurige toegangspunte vir kwaadwillige sagteware skep waardeur hierdie operateurs die weermag se netwerk kan binnedring.”

Bester het ná sy navorsing tot die gevolgtrekking gekom dat groter klem op militêre offisiere se persepsies oor kubersekuriteit geplaas moet word, “omdat die menslike komponent reeds as die kwesbaarste element in die bestuur van sekuriteit geïdentifiseer is”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.