Ndavi ʼn ‘gunsteling’ vir Mej. Heelal-titel

Ndavi wapper die Suid-Afrikaanse vlag met trots in New York. (Foto: Verskaf)

ʼn Vierde Mej. Heelal-titel wink dalk vanjaar vir Suid-Afrika.

Verskeie sosialemediapeilings verbonde aan die Mej. Heelal-kompetisie dui daarop dat die huidige Mej. Suid-Afrika, Ndavi Nokeri, ʼn gunsteling is om vanjaar dié gesogte skoonheidskompetisie se kroon te dra.

Ndavi is tans in die VSA waar sy aan die 71ste Mej. Heelal-kompetisie in New Orleans, Louisiana, deelneem. Sowat 85 vroue van regoor die wêreld gaan vanjaar om dié titel meeding.

Twee Mej. SA-deelnemers het in die afgelope vyf jaar die Mej. Heelal-kroon gedra: Demi-Leigh Nel-Peters (nou Tebow) in 2017 en Zozibini Tunzi in 2019, terwyl Mej. SA 2018, Tamaryn Green, en Mej. SA 2021, Lalela Mswane, albei as naaswenners aangewys is.

Die finale rondte vind Saterdag (14 Januarie) in die VSA plaas en sal regstreeks op 1 Magic (DStv-kanaal 103) op 15 Januarie om 03:00 regstreeks uitgesaai word. Die Amerikaanse televisiepersoonlikheid Jeani Mai en model en voormalige Mej. Heelal, Olivia Culpo, tree vanjaar as aanbieders op.

Deelnemers neem tans aan ʼn verskeidenheid van voorlopige rondtes en byeenkomste deel, waarin Ndavi tans volgens peilings soos Philstar.com, Missology and Miss Universe Predications floreer.

Luidens dié skoonheidskompetisie se amptelike nuusblad is sy ook een van vyf deelnemers wat gekies is om aan ʼn eksklusiewe fotosessie vir Mej. Heelal se amptelike grimeringborg, Muba Cosmetics, deel te neem.

Ndavi het op sosiale media gedeel dat sy eers drie opwindende dae in New York deurgebring voordat sy verlede week in New Orleans aangekom het.

Ndavi tydens haar kroning as Mej. Suid-Afrika 2022. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Dit was wonderlik om my mededeelnemers te ontmoet en hulle te leer ken. My voorbereidings is op koers en ek werk hard. Zozi (Tunzi) het ook vir my goeie raad gegee wat ek ter harte geneem het – om selfversekerd en outentiek te wees,” sê die 23-jarige boorling van Tzaneen.

“Ek waardeer die wonderlike ondersteuning van alle Suid-Afrikaners en ek sal die vlag hoog laat wapper wanneer ek op die Mej. Heelal-verhoog stap. Ek is vasbeslote om my alles te gee, net soos toe ek vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf het. ”

Ndavi word ook tans in die VSA omring met plaaslike kenners en geliefdes, insluitend Stephanie Weil, uitvoerende hoof van Mej. SA-organisasie, Werner Wessels, kreatiewe direkteur van die Mej. SA-organisasie, asook haar ouers, Moses en Betty Nokeri.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Astrain ·

Sy is ‘n Vossie van Tzaneen en ons hou styf duime vas vir haar! So pragtige meisiekind!

Francois ·

As sy nie wen nie gaan die EFF seker weer die rassekaart gooi

KatjieDeKat ·

Sy is absoluut pragtig, en daai bene! Lucky ducky, om so te lyk. As sy wen, kan geen mens sê sy het dit nie verdien nie.

George ·

Nie “lucky ducky” nie. Harde werk in en buite die gym, reg eet, die tyd kry, als.

George ·

Jammer Saffas kan haar nie ondersteun nie, ons almal weet hoekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.