‘Net polisie’ kan Tshwane nou red

(Foto: Verskaf deur die Tshwane-stadsraad)

Net die polisie kan die situasie in Tshwane nou beredder, sê die DA.

Kwena Moloto, woordvoerder van die DA-koukus in Tshwane, sê die polisie het tot dusver die onwettige staking in Tshwane as ’n arbeidsgeskil hanteer (wat die polisie se beweerde versuim aan optrede verduidelik).

“Dit is egter lankal nie meer ’n arbeidsgeskil nie,” sê Moloto.

“Dit is blatante kriminaliteit en georganiseerde misdaad.”

Die raad vra daarom dat die polisie ingryp en wet en orde in die metrogebied herstel.

Die Tshwane-metroraad het sedert die aanvang van die staking nie minder nie as 42 strafregtelike klagte, waaronder openbare geweld, brandstigting, aanranding, opsetlike saakbeskadiging, intimidasie en poging tot moord, by die polisie aanhangig gemaak.

Slegs 22 inhegtenisnemings is tot dusver gedoen – en almal vir die aanklagte van openbare geweld. Die meeste van die verdagtes is ook weer op vrye voet.

Sommige van die sake is binne enkele dae afgesluit sonder dat ’n enkele getuie ondervra is.

(Foto: Verskaf)

Moloto sê die polisie versuim om die voorvalle van geweld te ondersoek, al het die metro voldoende bewyse voorgelê. Hierdie bewyse sluit volgens hom in ʼn Telegram-groep waarop stakende werkers onder meer saamgesweer het om die metro te saboteer.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het egter tot op hede nie op enige sinvolle wyse betrokke geraak nie,” sê Moloto.

Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, sê die metro voel sedert die begin van die onwettige staking “redelik geïsoleerd”.

“Moet daar eers ’n lewe in gevaar wees voordat hulle ingryp? Ons het al ʼn skietvoorval gehad. Ons het al aanrandings gehad …”

Maroela Media het vroeër berig ’n watertenkwa en ʼn bakkie van die metro se batebeskermingsmoniteringseenheid, drie vragmotors van die departement water en sanitasie, asook ʼn A Re Yeng-bus is verlede week in verskeie gewelddadige aanvalle in Pretoria se middestad beskadig of verwoes.

Vier van hierdie voertuie is aan die brand gesteek.

Metro sal baklei teen administrasie

Moloto sê die kans dat die Gautengse provinsiale regering die Tshwane-metro opnuut onder administrasie plaas, is waarskynlik die laaste ding wat die metro nou nodig het.

Die metroraad sal daarom hand en tand baklei om te verhoed dat dit gebeur.

“Ons is vol vertroue dat hulle nie daarin sal slaag om ons onder administrasie te plaas nie,” sê Moloto.

(Foto: Pieter Cloete)

“Die stad is steeds in ’n haglike finansiële toestand weens die vorige keer, in 2020, wat dit onder administrasie geplaas is. Ons het van ’n begrotingsoorskot van R400 miljoen na ’n tekort van R4 miljard gegaan.

“Hierdie is nie die tyd vir politiek nie. Dit is ’n tyd vir saamstaan om die stad te red, want die stad is in ʼn oorlog gewikkel: Nie teen die werkers nie, maar teen misdadigers.”

Sommige munisipale werkers het die Tshwane-metrogebied die afgelope maand op horings geneem nadat die raad aangedui het dat hy nie geld vir salarisverhogings het nie.

“Dit sal ’n bykomende R600 miljoen tot ons loonrekening voeg en ons kan dit eenvoudig nie bekostig nie,” sê Moloto. “Om dit te kan doen, sal ons dienste aan inwoners moet besnoei en die uitvoerende burgemeester het dit duidelik gemaak dat hy weier om dit te doen.

“Ons doen nou ʼn beroep op Samwu om aktief betrokke te raak by die beëindiging van die staking wat hy begin het. Die vakbond het dalk vroeër gesê hy ondersteun nie meer die staking nie, maar hy moet leierskap toon en nie sy hande was van die chaos wat hy geskep het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

TrueMan ·

Hierdie is slegter nuus as die tsunamis. Want as net die polisie ons kan red? Eish

Nettie ·

Ja-nee. As hul die polisie instuur, gaan daar enigsins verbetering wees? Hulle sê die hoop beskaam nie, maar ai, my hoop in die polisie is maar bitter laag.

Republikein in die Wes Kaap ·

Lyk my die metro is werklik in die moeilikheid.

houopkruip ·

Stem saam – ek kom baie in oos kaap, wes kaap en kzn- dis nag – orals.

Frikkels ·

Die “polisie”, agge nee wat! Kry privaat ondersoekers en privaat sekerheid in. Maar julle hoef nie vêr te soek nie, samel net bewyse in teen Ramkat en maat lesufi wat vir ou mal emma betaal om chaos te skep. Die anc bibber en beef in aanloop tot die verkiesing volgende jaar en wie verstaan terroriste bedrywighede beter as juis die anc!

CHRISTINE ·

Die polisie is dan daar om die anc elite te dien, nie die publiek. Die publiek word met bribes en geweld geteister deur die polise. Hoe nou.

TrueMan ·

Die ANC is nie elite. Die elite is hulle baas. Die polisie weet dit is n land van anargie, want dit is na Verwoerd se moord reeds beplan. En waar anargie is, is die polisie van die grootste kriminele

Harley Davidson ·

As hulle op die polisie vertrou om te help kan hulle ophou tydmors en oorgee,die polisie in sy huidige vorm kan hulself nie eers help en beskerm nie.

MrMagic ·

Ek reken die stakers, ek van die polisie wat nie wil werk nie, moet eerder vervang word met mense wat wil werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.