NGV: Regstappe sal volg

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Solidariteit sal voortgaan om die regering en die departement van gesondheid voor die hof te daag indien die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) finaal aanvaar word. Solidariteit se reaksie volg nadat die wetsontwerp gister deur die portefeuljekomitee oor gesondheid aanvaar is.

Solidariteit het die hof reeds in Junie 2022 suksesvol genader toe artikels 36 tot 40 van hierdie wetgewing ongrondwetlik verklaar is. Verder het Solidariteit vanaf die aanvanklike publikasie van dié wetsontwerp deurentyd aktief deelgeneem aan die openbare prosesse deur kommentaar in te dien asook in die parlement voorleggings te maak.

“Die aanvaarding van die NGV word sterk deur Solidariteit veroordeel,” sê Peirru Marx, netwerkkoördineerder van die mediese sektor by Solidariteit. “In aanloop tot volgende jaar se verkiesing, en ten einde goedkoop stemme te werf, dring die ANC-regering daarop aan om hierdie wet deur te druk terwyl hulle ten volle daarvan bewus is dat hulle eie stelsel dit nie kan ondersteun nie.

“Hulle lei Suid-Afrikaners om die bos met uitsprake dat die NGV gesondheidsorg in Suid-Afrika sal bevorder terwyl hulle verswyg dat gesondheidsorg reeds aan alle Suid-Afrikaners beskikbaar is, maar dat die amptenary aan bestuur van hierdie noodsaaklike dienste nie oor die politieke wil beskik om te doen wat nodig is om die kwaliteit wat gesondheidsdienste moet lewer te verbeter nie.”

Volgens Marx moet die regering sy begroting vir gesondheid eerder doeltreffend aanwend om die huidige stelsel reg te ruk en beter bestuur in staatsinstellings toepas, eerder as om die privaat sektor te kaap en hulle te forseer om sy mislukking in die mediese sektor te probeer verbloem.

“Die implimentering van die NGV stuur ongetwyfeld af op ʼn ramp in die mediese sektor. Die regering kan doodeenvoudig nie vertrou word nie. Hulle geskiedenis van magsmisbruik, wanbestuur en korrupsie sal ongetwyfeld die kwaliteit van mediese sorg in gedrang bring. Ons is verder ook bekommerd oor die aantal gesondheidspraktisyns wat aangedui het dat hulle nie in hierdie omstandighede sal werk nie. Daar is ook heersende kommer oor die algehele ineenstorting van die vryemark wat die NGV in dié sektor tot gevolg sal hê,” voer Marx aan.

“Solidariteit is reeds besig om met sy regspan te vergader en sal hom onmiddellik tot aksie wend indien die NGV finaal goedgekeur word. Ons sal nie toekyk hoe ons gesondheidspraktisyns aan die regering uitgelewer word nie. Ons sal nie stilsit terwyl gewone burgers gedwing word om gebruik te maak van ʼn stelsel waar beurtmedikasie en -sorg ʼn moontlikheid is nie,” sluit Marx af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

NGV is niks anders as die magsmal desperate ANC wat die massas omkoop met leë beloftes.

Samuel ·

Alles waaraan die ANC raak, is ‘n gemors. Wat gaan word van ons mediesefondse? Hoe gaan die swak amptenare hierdie stelsel administreer?

annie ·

Die ANC het ‘n selfvernietigingsneiging. Hulle praat self van ‘n groot moontlikheid dat die land op ‘n mislukking afstuur maar doen absoluut niks om dit af te weer nie, inteendeel…

Skaduwee ·

Solidariteit moet optree voor die wet finaal goedgekeur word. Sukses in die verlede beteken nie die kaders koop die howe om sodat dit in hulle guns sal tel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.