‘Niemand sou Gauteng-vliegongeluk kon oorleef’, bevind verslag

Casper en Estelle Botha. (Foto: Castello-boerdery)

Niemand sou die vliegongeluk kon oorleef waarin Casper en Estelle Botha en Hennie Viviers op 29 Desember verlede jaar naby Carletonville in Gauteng dood is nie, het die Burgerlugvaartowerheid (BLO) in ʼn voorlopige verslag bevind.

Dié bevinding berus hoofsaaklik op die enorme skade wat met die impak van die botsing aan die kajuite van albei vliegtuie, ʼn Air Tractor-bespuitingsvliegtuig en ʼn Cessna 182, aangerig is.

Die impak was so erg dat die Botha-egpaar sowel as Viviers uit hul onderskeie vliegtuie geslinger is. Die vliegtuie het nie aan die brand geslaan nie, maar is in die lug byna heeltemal vernietig. Wrakstukke was oor ʼn 110 m‑radius gestrooi.

Maroela Media het vroeër berig dat Botha, eienaar van die Castello-boerdery buite Potchefstroom, en sy vrou, Estelle, dood is nadat hul vliegtuig in die lug met dié van Viviers gebots het. Viviers was in die Air Tractor en die Botha-egpaar in die Cessna.

Hennie Viviers (Foto: https://agaviationafrica.com/)

Viviers was ten tyde van die ongeluk besig met die besproeiing van ʼn mielieland, terwyl die Bothas, volgens beskikbare inligting, die toestand van die mielieland vanuit die lug beoordeel het. Die vlieëniers het glo via radiofrekwensiestelsels met mekaar gekommunikeer – onder meer oor waar bespuit moet word en watter toerusting om te gebruik.

Die BLO se ongeluk-en-voorval-ondersoekeenheid is getaak om die ongeluk te ondersoek, en het vandeesweek die voorlopige bevindings bekendgemaak. Die BLO benadruk egter dat dié verslag nie ten doel het om blaam of aanspreeklikheid toe te wys nie, en dat bevindings aangepas kan word namate die ondersoek vorder.

Luidens ooggetuie-inligting wat in die verslag vervat is, het die Bothas se ligte vliegtuig parallel met Viviers se bespuitingsvliegtuig gevlieg toe die Cessna gedraai en teen die Air Tractor gebots het.

Vliegtuie byna verwoes

Die skade wat aan die vliegtuie aangerig is, was so erg dat daar geen kans op oorlewing was nie.

Casper en Estelle Botha (Foto: Tian du Preez/Castello-boerdery/Facebook)

Die Cessna (waarin die Bothas gevlieg het) se linkervlerk is in die botsing afgeruk en het sowat 40 m van die hoofwrak gelê. Die linkervoorstesitplek van dié vliegtuig het langs die regtervlerk gelê. Die ander sitplek was steeds in die kajuit.

Die wrak van die bespuitingsvliegtuig het sowat 100 meter van die hoofwrak van die Cessna gelê, en die stertvlakte van die vliegtuig sowat 100 meter van die wrak, aldus die voorlopige verslag.

Verskeie ander onderdele en skroewe het ook losgekom en die vlieëniersitplek – sowel as die vloerstruktuur waaraan die sitplek vas was – het langs die regtervlerk van die ander vliegtuig se hoofwrak gelê.

Die bespuitingstoerusting was wel nog aan die vliegtuig vas, maar erg beskadig.

Die hoofwrak van die vliegtuig waarin Casper en Estelle Botha gevlieg het. (Foto: BLO-voorlopige verslag)

Die hoofwrak van die bespuitingsvliegtuig waarin Hennie Viviers gevlieg het. (Foto: BLO-voorlopige verslag)

Die verslag meld verder dat albei vliegtuie se navigasiestelsels gewerk het en dat daar nie enige toestande was wat sigbaarheid in die lug kon belemmer nie. Daar was slegs verspreide wolke en ʼn ligte wind het gewaai. Albei vliegtuie was gelisensieer en onlangs gediens – die Cessna in Junie 2023 en die spuitvliegtuig op 20 Desember 2023.

Die vlieëniersitplek van die bespuitingsvliegtuig het met sy vloerraamwerk van die vliegtuig losgeskeur. (Foto: BLO-voorlopige verslag)

Botha, wat die Cessna gevlieg het, het ʼn geldige private vlieglisensie gehad. Die vliegtuig het ʼn dubbele vlugkontrole gehad.

Hoewel Estelle, die passasier in die Cessna, ook ʼn vlieglisensie gehad het, was dit nie meer geldig nie aangesien haar mediese klaring in Oktober verlede jaar verval het.

Viviers het ook ʼn geldige private vlieglisensie gehad.

Luidens die BLO se verslag was hy oor die afgelope 35 jaar in drie vliegongelukke betrokke, waarvan die jongste in Januarie 2022 met die einste bespuitingsvliegtuig plaasgevind het.

In dié voorval het die bespuitingsvliegtuig ʼn jong man, Tiaan Daffy (22), ernstig beseer nadat die vlerk van dié vliegtuig sy been getref het.

Daffie was ten tyde van die ongeluk op sy vriendin se ouers se plaas toe hy ʼn video van die bespuitingsvliegtuig in die landerye op dié plaas in die Fochville-omgewing in Gauteng gemaak het. Vrese het bestaan dat dié kranige rugbyspeler sy been sou verloor. Dokters het destyds gesê ʼn lang rehabilitasiepad lê vir Daffy voor.

Die Bothas was bekende boere en inwoners van Potchefstroom in Noordwes. Viviers van Kroonstad in die Vrystaat was ʼn ervare kommersiële vlieënier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Die stelling dat Viviers ‘ook ‘n geldige private vlieglisensie gehad’ het, moet waarskynlik verander word na ‘kommersiële vlieglisensie’, want dìt is wat nodig is om lugbespuiting te doen. Dit was nie slegs roekeloos, maar ook vreemd dat hulle dieselfde hoogte gevlieg het. Indien die Cesna ‘n honderd voet hoër gevlieg het as die Air Tractor se beplande maksimum hoogte tydens die bespuiting, kon dit veilig gewees het.

Retha ·

Amazing hoe die artikel “doubt” probeer saai oor Viviers se vlieg kundigheid. Daffie het in die land gaan staan om n foto te neem terwyl Viviers gbesig was om te spuit. Geen vlieënier wat 3m van die grond af spuit sou hom kon sien nie. Selfs die lugvaartowerheid het Daffie se stupidity beaam. Noudat die arme mense dood is, probeer hy wraggies weer sy luck. Skaam jou Daffie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.