Nios nie bekommerd oor aappokke

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) voorsien nie dat aappokke endemies in Suid-Afrika sal word nie. Die instituut is wel voorbereid sou dié siekte op tuisbodem uitbreek.

Dr. Jacqueline Weyer van die Sentrum vir Opkomende Soönotiese en Parasitiese Siektes by Nios, het Woensdag gesê die instituut het reeds sy laboratoriumkapasiteit opgeskerp om enige vermoedelike gevalle van aappokke te toets indien nodig.

Daar was egter teen Woensdag nog geen gevalle in Suid-Afrika aangemeld nie.

Prof. Adrian Puren, uitvoerende direkteur van Nios, het op sy beurt gesê hy verwag nie ’n “ontploffing” van infeksies in Suid-Afrika, sou aappokke op tuisbodem uitbreek nie.

“Dit is beslis die grootste uitbreking wat ons nog gesien het, maar dit het moontlik te make met sekere omstandighede wat teweeggebring het dat hierdie groot getalle op bepaalde plekke voorkom.”

Altesame 240 gevalle van aappokke is reeds in 19 lande, waaronder verskeie Europese lande en Israel, VSA, Kanada en Australië aangemeld.

Weyer het daarop gewys dat dit die grootste uitbreking van aappokke buite endemiese lande is om aangeteken te word. Endemiese lande sluit in die Demokratiese Republiek van die Kongo, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Nigerië, Kameroen, Ghana, Sierra Leone, Suid-Soedan en Ivoorkus.

Puren het egter beklemtoon dat Suid-Afrika geen gevaar loop dat aappokke hiér as endemies gesien sal word nie.

“Gegewe die aard van hierdie spesifieke siekte, voorsien ons nie dat daar ’n vestiging van hierdie siektes sal wees nie. Met ander woorde, ek voorsien nie dat aappokke endemies in Suid-Afrika sal word nie.”

Daar was al vantevore sewe uitbrekings van aappokke buite endemiese gebiede. Die mees onlangse was in 2021 toe twee persone by afsonderlike geleenthede van Nigerië na die VSA teruggekeer het. Albei dié persone het ten volle herstel.

Nog geen sterftes weens aappokke is aangemeld nie. Weyer het gesê daar is tans 24 mense in die buiteland in hospitale opgeneem weens die siekte, maar dit is bloot sodat hulle geïsoleer kan word.

Nios verwag ook nie dat ’n uitbreking van aappokke die land se gesondheidstelsel sal ontwrig nie. Volgens Puren het die land se reaksie op die Covid-19-pandemie hom tot ’n mate voorberei om ’n uitbreking van aappokke te hanteer.

Hy het wel beklemtoon dat aappokke en Covid-19 twee verskillende siektes is en só hanteer sal word, sou die eerste geval van aappokke hier aangemeld word.

Lees al Maroela Media se berigte oor aappokke hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

Daar is amper 8 bil mense in die wêreld. Nou raak hul panoek bevange oor ‘n paar mense wat aap pokke opgedoen het. Niemand bekommer hul oor baie meer mense wat daagliks doodgemaak word nie.

Henri ·

Ek kan die aapstuipe kry as mense die bobbejaan agter die bult gaan haal.

Robert ·

Bangmaakstories oorlat hulle vax nou staan en vrot word…

domheks ·

hehehehe, dit lyk nie of dit ‘n ramptoestand gaan veroorsaak nie!

VaalDonkie ·

Ek hoor die WGO praat al klaar van 120 miljoen sterftes. Net soos in 2020 met COVID. En toe is daar seker 1 miljoen sterftes oor twee jaar aan covid en nog 5 miljoen MET covid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.