Nog beeste in Noordwes vergiftig

(Foto: Du Preez de Villiers)

Minstens 32 beeste is in die Tosca-gebied in Noordwes vergiftig, minder as ʼn maand nadat 44 beeste in die Bray-omgewing dood is.

In die jongste voorval van vergiftiging in Noordwes is 20 koeie, tien kalwers en twee bulle in die Tosca-gebied dood. Volgens Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri NW, het die jongste voorval weer baie vrae, frustrasie en agterdog tot gevolg.

“Dít mag ʼn nabootsing wees van die vorige afgryslike daad wat verstaanbaar baie blootstelling in die media gekry het, maar kan ook ʼn doelbewuste poging wees om die aandag van sekere ander verdagtes af te lei,” het Pienaar gesê met verwysing na verlede maand se voorval in die Bray-omgewing waar 44 van Ockert Goosen (25) se beeste vergiftig is.

Maroela Media het vroeër berig die polisie in Noordwes het ʼn taakspan gestig om die vergiftiging van Goosen se beeste te ondersoek.

Karkasse van sy koeie lê besaai oor een van Ockert Goosen se beeskampe. (Foto: Verskaf)

Boere op Bray, Tosca en ander omliggende dorpies word glo al die afgelope tien jaar deur ʼn veediefstalsindikaat geteister. Die vermeende sindikaatleier is aan die gemeenskap bekend en is al talle kere op beeldmateriaal geïdentifiseer, wat deur verskeie veiligheidskameras op plase en langs paaie vasgelê is.

Pienaar het gesê Agri NW het onmiddellik nadat daar van die jongste voorval verneem is, met lede van die Nasionale Taakspan kontak gemaak. “Ons het die versekering gekry dat die nuwe misdaadtoneel behoorlik ondersoek sal word en alle leidrade opgevolg sal word. Ons het ook kontak met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en vertrou dat senior aanklaers, wanneer nodig, waardevolle insette aan die ondersoekspan sal lewer.”

Volgens Pienaar is hierdie vergiftigingsvoorvalle die skokkende en onaanvaarbare gevolge van misdadigers wat al oor ʼn lang tydperk wegkom met hul dade weens wetstoepassers wat óf doelbewus óf onprofessioneel toelaat dat misdaadsindikate die septer swaai in sekere gebiede.

Ockert Goosen steek sy vergiftigde beeste aan die brand nadat hy dit in ‘n gat gestoot het. (Skermgreep: Verskaf)

“Dit is meer frustrerend as daar in ag geneem word dat ons reeds vir langer as tien jaar oral waarsku, waarna verskeie taakspanne in die verlede ontplooi is om spesifiek hierdie gebiede te besoek en sogenaamde onafhanklike ondersoeke te doen. Hoewel ons baie dankbaar is vir die inhegtenisnemings wat die afgelope week gedoen is en ook die deurlopende terugvoering van betrokke instansies verwelkom, was daar groot kommer rakende die reaksie wat hierdie misdadigers uit weerwraak mag uitvoer.”

Die familieboernetwerk Saai het ook vroeër gesê die polisie laat al ʼn dekade lank toe dat die vermeende veediefstalsindikaat ʼn skrikbewind in die Bray- en Tosca-omgewing voer, asook langs die Botswana-grens.

Saai wil egter nou seker maak dat daar teen die vermeende sindikaat en sy leier opgetree word. Saai sal eersdaags met sy netwerkvennote, onder wie AfriForum se privaatvervolgingseenheid, skakel om ʼn veldtog van stapel te stuur om die vermeende veediefstalsindikaat en sy vermeende meesterbrein te laat boet. Die vermeende meesterbrein het glo verskeie ou én nuwe sake teen hom waarvan daar nog nooit iets gekom het nie. Dié sake sal nou onder die vergrootglas geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.