Nóg bek-en-klouseergevalle ná verbod op vervoer van beeste

Foto ter illustrasie (Foto: Du Preez de Villiers)

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) sê hy neem kennis van die nuutste moniteringsverslag op die uitbreking van bek-en-klouseer soos vrygestel deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Die nuutste opdaterings van die uitbrekings volgens die verslag gedateer 29 Augustus 2022 dui op ʼn bykomende nege fasiliteite wat nou met bek-en-klouseer besmet is. Dit bring die totale nuwe uitbrekings te staan op 127 gevalle:

  • KwaZulu-Natal vanaf 73 tot 80
  • Gauteng vanaf 3 tot 6
  • Vrystaat vanaf 7 tot 24
  • Mpumalanga het een nuwe geval aangemeld.

“Hierdie bykomende uitbrekings het voorgekom tydens die huidige grendeltydperk en dit is ʼn aanduiding van hoe versigtig daar opgetree moet word en hoeveel moeite gedoen moet word om die verdere verspreiding van die virus te bekamp,” sê Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die RPO. “Die uitbrekings het voorgekom in die tydperk waar daar ʼn verbod geplaas is op die beweging van beeste en daar kan bespiegel word wat die totale getal uitbrekings sou wees indien die verbod nie ingestel was nie.”

Die RPO is op rekord dat die bioveiligheidsmaatreëls op plase nou van uiterste belang is en dat elke produsent verantwoordelikheid moet neem van sy/haar eie boerderyonderneming by wyse van selfregulering.

“Die RPO doen weer eens ʼn beroep op produsente om nie nou diere in te bring op hul plase waarvan die gesondheidstatus nie bevestig kan word nie. Die missiestelling van die RPO is om die winsgewendheid en volhoubaarheid van produsente op grondvlak uit te bou en die organisasie doen derhalwe alles in sy vermoë om by wyse van konstruktiewe skakeling met die regering, die bes moontlike uitkoms vir produsente te beding.”

Schutte sê die vooruitgang en groei van die rooivleisbedryf is vir die RPO ʼn groot prioriteit en

daar word hard gewerk om die nasionale kudde teen dieresiektes te beskerm en die huidige uitbrekings die hoof te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.