Nog een gevonnis ná Dendron-plaasaanval

Leonise Joubert (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Nog ’n beskuldigde is Donderdag in die hooggeregshof in Polokwane gevonnis vir die aanval op Chris en Leonise Joubert op hul plaas naby Dendron in Limpopo op 5 Augustus 2020.

Nicolus Tlou (33) is tot twee keer lewenslank gevonnis op aanklagte van moord en verkragting, wat samelopend uitgedien sal word. Hy is ’n bykomende 35 jaar tronkstraf opgelê vir aanklagte van aanranding, aanranding met die doel om ernstig te beseer, huisroof, asook die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Dit sal kumulatief uitgedien word.

Tlou het Maandag skuldig gepleit op al die aanklagte teen hom.

Moloko Aaron Mabena (21) is in Februarie ook ingevolge ’n pleitooreenkoms tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Mabena het teen sy medebeskuldigdes getuig.

Mabena is die seun van die egpaar se huiswerker en het soos ’n kind voor hulle grootgeword. Hy was 18 jaar oud ten tyde van die aanval.

Nog ’n beskuldigde, Mokgomotsi Christopher Mokgotsi (34), se verhoor sal na verwagting volgende week voortgaan. Hy word ook van verkragting, huisroof, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla.

Maroela Media het vroeër berig drie mans het die aand by die egpaar se plaashuis ingebreek en Chris erg aangerand. Leonise is twee keer verkrag. Chris se 99-jarige ma, Betsie, was ook in die huis, maar het fisiek ongedeerd van die voorval afgekom.

Die mans is kort ná die aanval in hegtenis geneem. Een van hul makkers is tydens ’n jaagtog met die polisie doodgeskiet.

Rimpeluitwerking

Frikkie en Dedere Roos, bure van die Joubert-gesin, was die aand van die aanval eerste op die toneel. Dedere het ook in die hofsaak getuig.

“Toe ons gister uit die hof gestap het, het ons met hoop uitgestap,” het Frikkie aan Maroela Media gesê.

Hy sê daar is ’n tevredenheid onder die boeregemeenskap dat regter Violet Semenya maksimum vonnisse opgelê het.

“Die regter kon geen versagtende omstandighede vir die beskuldigde vind nie. Hy het geen berou getoon nie en het drie vorige veroordelings teen hom.”

Dedere het getuig oor die toneel waarop sy en Frikkie op daardie aand afgekom het. Sy het die beskuldigde in die oë gekyk toe sy vertel het hoe hulle daardie aand in die huis ingestap en op ’n bloedbad afgekom het.

“Ek was totaal verstom dat ’n mens Chris só kon aanrand. Vir my het dit eerder na die werk van ’n wilde dier gelyk,” het sy getuig.

Volgens Frikkie het ’n plaasaanval soos hierdie ’n rimpeluitwerking op die ganse boeregemeenskap.

“Ons hoop die swaar vonnis kan ’n boodskap uitstuur aan ander plaasaanvallers; dat hulle nie ongestraf gelaat sal word vir hul dade nie.”

Die hofsaak is sedert 2020 herhaaldelik en om verskeie redes uitgestel en met elke hofverskyning wat die egpaar bygewoon het, is ou wonde weer oopgekrap.

“Dit bly baie moeilik om weer aan alles herinner te word, maar ons is so bevoorreg om bygestaan te word deur ons kinders, familie en dierbaarstes,” het Leonise vroeër aan Maroela Media gesê.

Die egpaar het ná die aanval die plaas verlaat. Leonise het meer as ’n jaar gelede by die CVO Vivo begin skoolgee en Chris het ’n werk by ’n boer in die omgewing gekry. Die egpaar woon nou by die skool en verhuur die plaas.

“Hul droom was om eendag op die plaas af te tree; Draaifontein was hul hemel op aarde … Leonise was lief vir haar huis. Nou kom hulle nooit meer op die plaas nie,” sê Frikkie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stofdonkie ·

“Die regter kon geen versagtende omstandighede vir die beskuldigde vind nie. Hy het geen berou getoon nie en het drie vorige veroordelings teen hom.” – Die krimineel het dus eintlik in die tronk gehoort maar is seker vrygelaat deur een of ander mal president wat besluit het om kriminele net vry te laat.

Casper ·

Nicolas Tlou is gevonnis vir moord.Aan wie se moord is hy skuldig bevind of mis ek iets.Geen vonnis sal ‘n boodskap uitstuur terwyl Malema sy liedjie sing nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.