Nóg ʼn beskuldigde tot Fort Hare-korrupsiesaak bygevoeg

(Foto: Facebook/Fort Hare University)

Sakeman Justin Peter King is Woensdag as die 21ste beskuldigde in die sogenaamde Fort Hare-bedrog-en-korrupsiesaak bygevoeg.

King het vroeër vandag in die Dimbaza-landdroshof verskyn waar hy nes 12 van sy medebeskuldigdes borgtog van R50 000 toegestaan is.

Die verdagtes word almal vervolg vir hul onderskeie beweerde rolle in ʼn web van korrupsie en selfverryking by die Universiteit van Fort Hare.

King word daarvan beskuldig dat hy sy kontantleningsonderneming gebruik het om kontantbetalings aan universiteitspersoneel te maak.

Twee medebeskuldigdes, Terrence Joubert en Anwar Khan, se borgtogaansoeke sal intussen Vrydag voortgesit word. Uitspraak rakende die twee beskuldigdes se borgtogaansoeke sal na verwagting dán gelewer word.

Isaac Plaatjies het intussen sy aansoek om borgtog laat vaar.

Die 21 beskuldigdes, van wie nege werknemers van die universiteit was en die res diensverskaffers, word daarvan beskuldig dat hulle saamgespan het om vir mekaar tenderkontrakte by die universiteit te gee in ruil vir vergoedings.

Die algehele bedrag wat deur die universiteit aan die diensverskaffers betaal is, beloop meer as R172 miljoen.

Die tenders is na bewering voorafgegaan deur gewelddadige dade by die universiteit.

Maroela Media het vroeër berig prof. Sakhela Buhlungu, visekanselier van die Universiteit van Fort Hare, se lyfwag, Mboneli Vesele, is in Januarie verlede jaar in ʼn koeëlreën dood toe aanvallers op die visekanselier se voertuig losgebrand het. Buhlungu was nie in daardie stadium in die voertuig nie en is na ʼn plek van veiligheid geneem.

Vesele se dood het gevolg op die sluipmoord op Petrus Roets, die universiteit se vlootbestuurder. Roets is in Mei 2022 vermoor.

Plaatjies word in ʼn aparte saak saam met nege ander van die moorde aangekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Die korruptes het geen te kort aan n misdadige verbeelding.Woeker met hulle talente.

Aggie ·

Is daar instansies wat nie geteiken word deur korrupsie nie? Wat het van ons eers wonderlike land geword?

ES ·

Dit gebeur by elke universiteit, party steek dit ne beter weg as ander.

Cassie Carstens ·

Dit wys maar net weereens die ANC regering voel vere vir ons jeug se opleiding.

Yvonne ·

Ons land het in verrotting verval…hoe bitter tragies is dit nie….ek het nooit ooit eers kon dink dit is hoe korrupsie lyk nie….nooit ooit in my gedagtes gewees nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.