Nog ’n beslissing in Intercape se guns

Argieffoto van een van die aanvalle op ‘n Intercape-bus. (Foto: Intercape)

Intercape het nou nog ’n hooggeregshofbevel bekom – die keer om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) te dwing om 165 voorvalle van geweld en intimidasie teen dié busdiens te ondersoek.

Die hooggeregshof in Makhanda het Dinsdag onder meer bevind dat die polisie en die Valke versuim het om die reeks misdade teen Intercape te ondersoek en te voorkom.

Dié hof het nou gelas dat die polisie en Valke onder meer die misdade ondersoek én binne 60 dae elkeen ’n verslag aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verskaf oor die vordering wat gemaak is met die ondersoek na hierdie voorvalle.

Intercape sê die hof het ook bevind dat die reeks misdade op ’n patroon van aktiwiteite van rampokkery dui soos omskryf in die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad sowel as georganiseerde misdade soos omskryf in die Polisiewet.

“Die polisie en Valke het dus nou nie meer ’n verskoning om nie die misdade te ondersoek nie,” sê die busdiens.

“Hulle moet hierdie gruwelike misdade as gevalle van georganiseerde misdaad en as nasionale prioriteitsmisdrywe hanteer wat gespesialiseerde vaardighede vereis om ondersoek en voorkom te word.

Argieffoto van een van die aanvalle op ‘n Intercape-bus. (Foto: Intercape)

“En hulle moet vinnig en daadwerklik optree.”

Intercape bestempel die jongste uitspraak in sy guns as ’n oorwinning vir elke Suid-Afrikaner se reg om op die polisie te kan staatmaak om hulle teen misdaad te beskerm “en veral vir ons passasiers wat die reg het om vry en sonder vrees te reis”.

Die uitspraak is een van vele in die guns van Intercape as deel van sy regstryd om die regering sover te kry om dié langafstandbusdiens, sy bestuurders en passasiers te beskerm.

Intercape sê egter dit is teleurstellend dat hy die hof moet nader om die polisie en die Valke te dwing om hul grondwetlike verpligtinge na te kom.

“Baie mense het vertroue verloor in die polisie se vermoë om die oorlog teen misdaad te wen. Sommige het aanvaar dat misdaad ’n onvermydelike deel van die lewe in Suid-Afrika geword het en dat om te oorleef, ’n mens moet toegee aan die eise van misdadigers.

“As wetteloosheid die aanvaarde staat word, sou Suid-Afrika misluk het. Ons aanvaar nie hierdie lot nie. Ons bly verbind tot die oppergesag van die reg. Ten spyte van die ernstige mislukkings deur die polisie en die Valke, bly ons glo dat hulle hul grondwetlike verpligtinge om die wet te handhaaf en toe te pas, kan en moet nakom, en ons is bemoedig dat die hof beslis het hulle moet dit doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marous ·

Hofbevele is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Stel privaat sekuriteit aan .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.