Nóg ʼn groot perlemoenvonds in Kaapstad gemaak

Die sakke perlemoen (Foto: SAPD)

Die Wes-Kaapse polisie het Woensdag twee verdagtes in hegtenis nadat op perlemoen met ʼn straatwaarde van ongeveer R7 miljoen in Milnerton in Kaapstad beslag gelê is.

Die verdagtes, onderskeidelik 29 en 45 jaar oud, word direk verbind aan dié vonds.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê die operasie deur lede van die nasionale intervensie-eenheid en misdaadintelligensie het tot die verdagtes se inhegtenisneming gelei.

“Die lede het Woensdagmiddag omstreeks 14:00 gereageer op inligting oor perlemoen wat in ʼn kelder van ʼn woonstelkompleks in Century City, Milnerton, gestoor word. Met lede se aankoms op die toneel het hulle drie voertuie gevind wat gelaai was met perlemoen in plastieksakke,” vertel Van Wyk.

Die lede het beslag gelê op die drie voertuie waarin sowat 23 000 eenhede perlemoen was.

“Die perlemoen is aan die departement van landbou, bosbou en vissery oorhandig.”

Die verdagtes sal na verwagting eersdaags in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

Hierdie vonds volg na 40 sakke perlemoen met ʼn straatwaarde van R8 miljoen Dinsdag in die industriële gebied van Kaapstad gevind is. Die Valke se ondersoekspan het op ʼn onwettige stoorfasiliteit in Manhattanstraat in die industriële gebied van Kaapstad toegeslaan en op die perlemoen, wat reeds uitgedroog was, afgekom.

Beamptes van misdaadintelligensie asook die departement van landbou, bosbou en visserye was deel van die operasie om onwettige perlemoenberging in Kaapstad stop te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elize ·

Ek kan nie glo dat daar nog enige perlamoen in die see oor is nie

Hennie ·

Dit gaan al hoe meer gebeur dat mense hul wend tot kriminele aktiwiteite! Dis tekenend van ‘n sot-versadigde regering wat roof, plunder en toelaat dat moord en verkragting die nasionale sport word! Dis tyd om terug te slaan!

Spiekeries ·

Ek dink dis dieselfde “batch” wat net oor en oor ge-“sirkuleer word?

Zandra ·

en hier sit ek droë mond, ek weet nie eers hoe proe dit,
wat word nou val al die perlemoen?
hoekom word dit nie op ‘n staatsveiling verkoop en ten minste kan daar geld inkom, of smul die mense wat dit vat lekker daaraan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.