Nog ʼn paar sopnat dae lê voor

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Suid-Afrikaners sal vir die volgende paar dae hul sambrele byderhand moet hou, met reën wat nog tot Saterdag in groot dele van die land sal uitsak.

Volgens Hannelee Doubell, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, word verspreide tot wydverspreide buie en donderbuie tot Saterdag in Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Noordwes, die Vrystaat, die suidelike dele van die Noord-Kaap en die oostelike dele van die Wes-Kaap voorspel.

Dit is weens ’n afsnylaagdrukstelsel wat oor die sentrale en oostelike dele van die land beweeg.

Reënbuie het sedert verlede week reeds oor groot dele van die land uitgesak.

Die weerdiens waarsku teen die moontlikheid van oorstromings wat Woensdag in veral die sentrale binneland kan voorkom.

“Die risiko vir oorstromings sal gedurende die week geleidelik ooswaarts beweeg en sal KwaZulu-Natal, Gauteng en Mpumalanga teen Vrydag bereik,” sê Doubell.

“Daar is ook ’n moontlikheid vir erge donderstorms en waarskuwings vir gebiede wat moontlik geraak kan word, sal dienooreenkomstig uitgereik word.”

Die weerstelsel sal na verwagting Saterdag die land in die noordooste verlaat, waarna die reënwolke geleidelik sal opklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Moet nooit nee se vir reen nie……lekker lekker reen op ‘n sinkdak dan raak jy soe lekker aan die slaap.

Nicholaas ·

Wonderlike nuus, ons nou al in ons 9de jaar van droogte hier in die oos kaap.

Lillian ·

Ag dis heerlik, en ek slaap soos ‘n baba as dit buite reën.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.