Nóg ʼn urinevoorval by US

Die manskoshuis Helshoogte. (Foto: Facebook)

Nóg ʼn koshuisstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US) het sleg deurgeloop toe sy besope kamermaat glo op sy besittings geürineer het.

Die beweerde urineerder is reeds tydelik uit sy koshuis, Helshoogte, geskors.

Die jongste voorval kom skaars twee maande nadat Theuns du Toit (19) permanent uit dié universiteit geskors is nadat hy op sy medestudent Babalo Ndwayana se besittings by die Huis Marais-manskoshuis geürineer het.

Prof. Deresh Ramjugernath, visierektor van leer en onderrig aan die universiteit, het in ʼn verklaring gesê dat die voorval Donderdag onder die aandag van Helshoogte se koshuisbestuur gebring is. Dit is kort daarna aan verskeie universiteitstrukture en die uitvoerende bestuur van die US vir dringende ondersoek aangemeld.

“Die saak sal deur die universiteit se kantoor vir studentedissipline ondersoek word in ooreenstemming met die jongste weergawe van die dissiplinêre gedragskode vir studente.”

Die manskoshuis Helshoogte het in ʼn afsonderlike verklaring meer besonderhede oor die voorval bekend gemaak.

Luidens dié verklaring het ʼn student, wat glo dronk was, Donderdag in die vroeë oggendure op die vloer van sy kamer en op sy kamermaat se stoel geürineer.

“Die geïmpliseerde student is uit die koshuis geskors, hangende die uitkoms van ʼn ondersoek na die voorval,” sê die koshuis.

“Die betrokke inwoners het wel versoek dat hulle die geleentheid gegun word om op hul studies te fokus terwyl die ondersoek voortduur.”

Die student op wie se stoel geürineer is, is intussen na ʼn nuwe kamer geskuif “en sal aanhou om die nodige ondersteuning te ontvang”.

Verdere besonderhede oor die beweerde urineerder en die betrokke student is nie in hierdie stadium bekend nie.

Die US se rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, sal nou verdere stappe teen die beweerde oortreder oorweeg. Skorsing uit die universiteit is een van hierdie stappe, maar De Villiers sal glo eers al die feite in die saak bestudeer voordat hy tot ʼn besluit kom.

“Die universiteit beskou die besonderhede rondom die ondersoek as vertroulik,” sê De Villiers.

“Die US sal soos en wanneer nodig dadelik verdere inligting verskaf oor die uitkoms van die ondersoeke en die prosesse wat aan die gang is.”

Albei partye het reeds hul volle samewerking in die ondersoek gegee.

De Villiers is nietemin bekommerd oor alkoholmisbruik op en rondom die kampus. Dit ondanks die koshuisreëls wat alkoholgebruik in koshuise betref wat onlangs hersien is.

“Menswaardigheid is ononderhandelbaar by die US en moet gerespekteer en gehandhaaf word. Indien sodanige waardigheid aangetas is, moet dit op geregtelike wyse herstel word soos daarvoor voorsiening gemaak word in die universiteit se dissiplinêre raamwerk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KatjieDeKat ·

Laat ons die name van die betrokke partye sien. Die eerste geval en naam vd skuldige was nie vir lank “vertroulik” nie. So ons verwag om ook in hierdie geval blitsvinnig al die details te sien. By voorbaat dank, Prof de Villiers.

VaalDonkie ·

As dit nou al so gaan, hoe gaan dit wees eendag wanneer MY kinders varsity toe gaan?

Wildemien ·

Drankmisbruik onder studente is niks nuuts nie. Maar kan mans nie net leer om hulle geslagsdele binne hulle broeke te hou nie? Om daai outjie oral rond te swaai en jou omgewing te merk asof jy ‘n hond is, is myns insiens net regtig af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.