Nóg ʼn verdagte vas oor moord op oud-polisiehoof se vrou

(Argieffoto)

Nog ʼn verdagte is Saterdag in hegtenis geneem in verband met die moord op die voormalige Oos-Kaapse polisiehoof, Wilson Toba (55), se vrou en skoondogter verlede jaar.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn beweerde liefdesdriehoek moontlik tot die moord op Cingiswa Caroline Mila (41) en Boniswa Alinah Toba (74) gelei het.

Nkosinathi Junior George (24) het Dinsdag vlugtig in die Peddie-landdroshof verskyn nadat hy in Port Elizabeth vasgetrek is. George se borgaansoek is laat vaar en die saak is tot 28 Januarie uitgestel.

Die ander vier beskuldigdes, Nomvula Issabella Zodwa (57), ʼn voormalige polisiekaptein, Lwando Elvis Lengisi (32), Ayabulela Mahokoto (27) en Thamsanqa Hlamandana (32), sal na verwagting weer op 15 Maart in die Bhisho-hooggeregshof verskyn.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê dat Zodwa na bewering ʼn romantiese verhouding met die voormalige kommissaris aangeknoop het toe sy Thamsanqa Hlamandana (32), ʼn sangoma van Port Elizabeth, gevra het om sy vrou te toor. Dié het glo voorgestel dat sy eerder twee mans huur om Mila te vermoor.

Lengisi en George het na bewering in April verlede jaar die Toba-opstal by Celetyuma Village in Peddie binnegekom, waar hulle Toba en Mila vasgebind en doodgesteek het. Die verdagtes het toe die huis beroof. Mahokoto het glo Lengisi en George van Port Elizabeth na Peddie en terug vervoer .

Zodwa, Lengisi, Mahokoto en Hlamandana is kort ná die voorval in hegtenis geneem en is steeds in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pompies ·

Ja ne dit is ons polisie wat so aangaan. Meeste van hulle het geen respek vir hulle self ander of die uniform wat hulle dra nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.