Nog ’n vermeende sosialemediaverkragter aangekeer

(Foto: pixabay)

Nog ’n vermeende verkragter wat na bewering sosialemedianetwerke gebruik het om sy slagoffer te lok, is in hegtenis geneem – dié keer in die Vrystaat.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het Sondag in ’n verklaring gesê ’n 32-jarige man is Saterdag in Odendaalsrus in hegtenis geneem nadat hy glo ’n vrou op Facebook gevra het om hom in dié dorp te ontmoet waarna hy haar na bewering verkrag het.

Volgens Mbambo het die 25-jarige slagoffer vanaf Welkom na Odendaalsrus gereis om die man vir die eerste keer te ontmoet. Dié ontmoeting het plaasgevind en die man het ’n masker gedra en was nie aan haar bekend nie.

“Die man het haar in die rigting van bosse agter die Khotsong Primary School by ’n oop veld gelei waar hy haar met ’n mes aangehou het en haar verkrag het. Hy het na bewering toe vir haar R20 gegee sodat sy kon terugkeer Welkom toe,” het Mbambo verduidelik.

Terwyl die vrou besig was om die voorval by die polisie aan te meld, het sy ’n oproep van die verdagte ontvang waarin hy haar om verskoning gevra het vir wat hy aan haar gedoen het. “Hy het ook gevra om haar weer te sien,” het Mbambo gesê.

Volgens Mbambo het die polisiebeamptes aan diens toe die vrou voorgesê wat om vir die verdagte te sê om ’n moontlike inhegtenisneming te bewerkstellig. Die verdagte is later in die omgewing van Lengoeleng in hegtenis te neem.

“Die verdagte was tydens die inhegtenisneming in die besit van die selfoon waarmee hy met die slagoffer gepraat het, ’n swart mus en swart handskoene. Nog bewyse is later by die misdaadstoneel ingewin vir forensiese ondersoek,” het Mbambo gesê.

Die man sal na verwagting vandag (Maandag) in die landdroshof in Odendaalsrus verskyn op aanklagte van verkragting.

Dít volg kort nadat ’n vermeende reeksverkragter in Noordwes in hegtenis geneem is wat glo ook van sosialemedianetwerke gebruik gemaak het om sy slagoffers te lok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.