Nóg reën, donderbuie verwag

Nog swaar reën is op pad vir die week (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het gewaarsku dat nog swaar reën en donderstorms Gauteng, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal vandeesweek kan tref. Dit volg nadat dié provinsies reeds die afgelope naweek stormweer ervaar het.

ʼn Kouefront wat met reën en koue gepaardgaan word ook vandag (Dinsdag) in die Wes-Kaap verwag.

Edward Engelbrecht, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, sê donderstorms en swaar reënbuie word van vandag (Dinsdag) en vir die res van die week in Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal verwag.

Daar is Dinsdag en Woensdag ’n 30% kans vir reën vir Gauteng wat teen Donderdag tot 60% kan toeneem. Ligte donderbuie word ook vir Dinsdagmiddag vir die provinsie voorspel. Die oostelike dele van die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes kan van Donderdag af reën en donderbuie verwag.

Oorstromings die afgelope naweek in Gauteng (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Reën in dié provinsies word nog tot Sondag voorspel.

Die kouefront wat die suidwestelike kus van die Wes-Kaap vandag bereik sal ook langs die kus na die Oos-Kaap en KwaZulu-Natalse kus uitbrei. Die kouefront sal ook koeler weer en reën in hierdie provinsies tot gevolg hê.

Die Johannesburg-metroraad waarsku intussen teen die hewige donderstorms en swaar reën wat kitsoorstromings in laagliggende gebiede kan veroorsaak en stormsterk wind wat skade aan informele nedersettings kan aanrig.

“Wees op die uitkyk vir bome wat kan omval en vermy oop en geïsoleerde ruimtes. Motoriste en voetgangers moet ook nie probeer om oorstroomde laagliggende brûe oor te steek nie.”

Die rampbestuursentrum waarsku ook motoriste om veral paraat te wees op die pad omdat sigbaarheid swak kan wees.

“Soek tydens donderstorms skuiling of bly sover moontlik binnenshuis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alexander ·

Ek hoop van harte dat die westelike gedeelte van die Oos-Kaap ook reen sal kry. Die damvlakke daar is oor die algemeen steeds baie laag.

pompies ·

Ek hoop ook dat die Noord kaap en Wes Vrystaat en Noord wes in die weste ook goeie reen sal kry veral daar waar die verskriklike brande gewoed het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.