Nog reën op pad

Argieffoto (Foto: Megan Swart, Maroela Media)

Nog reën is op pad en inwoners van Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal sal waarskynlik hul naweek binnenshuis moet deurbring.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) raai nou diegene aan wat beplan om Swart Vrydag hul tyd in die winkels te verwyl, om versigtig op die paaie te wees aangesien daar ’n moontlikheid van reën, wind en selfs hael bestaan.

Gautengers het reeds Vrydagoggend met donderstorms wakker geword wat intussen opgeklaar het.

Venetia Phakula, ’n weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, sê nou nóg reën word egter teen vanmiddag vir dié provinsie verwag, terwyl vanoggend se donderstorms deur die loop van die oggend na Limpopo en Mpumalanga sal beweeg.

’n Geel vlak 2-waarskuwing teen donderstorms geld gevolglik vanaf 13:00 in die hoëveld en platorand van Mpumalanga en die suidoostelike gedeeltes van Limpopo.

Dié donderstorms kan reënbuie, groot haelkorrels, stormsterk winde en oormatige weerlig in die twee provinsies veroorsaak wat oorstromings tot gevolg kan hê.

Daar bestaan tans ’n 80%-kans op reën en donderbuie Saterdag in Gauteng en Mpumalanga, “veral in Emalahleni, Secunda en Standerton,” asook KwaZulu-Natal, die oostelike dele van Noordwes en die Vrystaat.

Die res van Noordwes het nes Limpopo ’n 60%-kans op reën oor die res van die naweek.

Phakula sê die Oos-Kaap kan ook vanaf Saterdag tot Sondag reën te wagte wees met ’n baie geringe kans op reën vir die res van vandag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Antie Sarie ·

VErlede week toe hael dit in sekere gedeeltes van Centurion, sonder n wolk in die lug. ‘n Wonderwerk? Of dalk is ons conspiracy theorists nie so verkeerd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.