Nóg swaar reën vir die noorde voorspel

‘n Kar onder water in Alberton (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Inwoners in die noordelike gebiede van die land moet hulle staal teen nóg swaar reën wat moontlik vir die volgende sewe dae kan uitsak. Dit het reeds die afgelope week onophoudelik in van hierdie gebiede gereën.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ʼn waarskuwing uitgereik vir swaar reën vir Vrydag in die suidwestelike gedeeltes van Limpopo, die noordoostelike gebiede van Noordwes, Gauteng en die hoëveld van Mpumalanga.

Volgens Kgoloselo Mahlangu, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, word ʼn kans van 30% tot 60% vir reën van Vrydag tot Sondag vir die dele van Limpopo, Mpumalanga, Gauteng, Noordwes, die sentrale en oostelike gebiede van die Vrystaat asook KwaZulu-Natal voorspel. Hierdie reën sal teen Sondag na die Oos-Kaapse kus versprei.

Maroela Media het vroeër berig die tropiese sikloon Eloise het die afgelope naweek reeds verwoesting in dele van KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Gauteng gesaai. Verskeie gesinne is dakloos gelaat en sommige groot paaie is nou ontoeganklik weens reënskade.

Swaar reën en stormsterk winde het sedert Saterdagaand in hierdie provinsies uitgesak en wydverspreide vloede veroorsaak. Die reën het teen Dinsdag so ʼn klein bietjie begin opklaar, maar teen Woensdag weer begin val.

Paaie oorstroom in Alberton (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Die Stad Tshwane waarsku sy inwoners teen ontwrigtende reën vir Vrydag. Die stad se departement van nooddienste het saam met ander departemente reeds planne vir die bestuur van vloedvoorvalle geaktiveer en in werking begin stel.

Weens die swaar reën die afgelope paar dae het verskeie laagwaterbrûe in Centurion reeds begin oorstroom.

“Verskeie dele van die stad Tshwane ervaar bogemiddelde reënval wat lei tot verhoogde watervlakke in riviere en damme, laagwaterbrûe en dreineringstelsels in formele en informele nedersettings,” sê Charles Mabaso, woordvoerder van die Stad Tshwane.

Mabaso sê die stad se nooddienste het vandeesweek op ʼn paar noodgevalle weens die stormweer gereageer. Een van die voorvalle was twee voertuie wat vasgekeer was weens hoë watervlakke in Vom Hagenstraat, Pretoria-Wes. In ʼn ander voorval was ʼn huis in Ramotse, Hammanskraal, oorstroom. Die nooddienste het gehelp om die water met draagbare pompe uit die huis te dreineer. ʼn Dak by die Masakhane-kliniek in Alexandra het ook ineengestort.

Die rampbestuursentrum se risikobeheer-afdeling bepaal tans die skade in uitbreiding 8 in Zithobeni naby Bronkhorstspruit, nadat verskillende huise wat in die vleiland gebou is, oorstroom het.

Swaar reën word vir die volgende week vir Gauteng voorspel (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Sommige paaie en brûe is gesluit en motoriste word versoek om van alternatiewe roetes gebruik te maak. Die Stad doen ook ʼn beroep op motoriste om ekstra versigtig op die nat paaie te ry.

Die volgende strate word as ʼn hoë risiko beskou: Paul Krugerstraat naby die Wonderboompas; Vom Hagenstraat; die Centurion-gebied (Rabie- en Endstraat, die Irene-brug, Lenchenpad, West- en Hall-straat en gebiede rondom die Centurion-meer).

Inwoners in gebiede wat die risiko loop om deur oorstromings geraak te word, word ook aangeraai om solank die nodige voorsorgmaatreëls te tref.

“Inwoners moet nou meer as ooit waaksaam wees, aangesien daar nog reën vir die komende week voorspel word.”

Die sluise van die hemel was van Dinsdag tot Donderdag oop in die westelike gedeeltes van die Vrystaat asook die noordoostelike gedeeltes van die Noord-Kaap.

Weens swaar reën het wydverspreide vloede plaasgevind wat daartoe gelei het dat paaie vir motoriste byna onbegaanbaar geword het. In dorpies soos Deben en Kathu in die Noord-Kaap het inwoners amper weggespoel en was genoop om hul huise weens oorstromings te ontruim.

Pretoria se paaie onder water (Foto: Gauteng Weather, Twitter)


‘n Inwoner van Erasmuskloof in Pretoria se erf staan onder water (Foto: C Gonsalves via Gauteng Weather, Twitter)


Vloede in Mbombela in Mpumalanga (Foto: Gauteng Weather, Twitter)


Vloede in Mbombela in Mpumalanga (Foto: Gauteng Weather, Twitter)


Graskop en Lisbon Falls (Foto: Belinda Brink via StormReportSA, Twitter)


Oorstromings in Graskop (Foto: Lance Gibson via Storm Report SA, Twitter)


Oorstromings in die Krugerwildtuin (Foto: Kruger National Park, Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Androclus ·

Die strate en paaie sal so lyk want hierdie ou kamstige regering doen niks nie sies.

Michael ·

Die meeste oorstromings in dorpe en stede is nie agv die reen nie, maar weens instandhouding wat jare laas gedoen is aan stormwater en dreineringstelsels. Dan is die strate ook so vuil en toegegroei dat die water nie kan wegvloei nie

Irma ·

Ja Michael, ek stem saam met jou. Dit is ook seker hoekom Vom Hagenstraat in Pretoria Wes so oorstroom. Ons moes nou een middag ‘n alternatiewe roete neem want Vom Hagenstraat was heeltemal oorspoel. Nog ‘n ding wat my deesdae ook dwars in die krop steek is die feit dat die gras op sypaadjies nie meer deur die Metroraad gesny word nie (Pretorianers gaan dalk een van die dae in ‘n oerwoud bly).

Casper ·

Dit is verligting en tog kommerwekkend.Wind water en vuur is elemente wat groot verwoesting kan saai.Mense moet waarskuwings van nooddienste ter harte neem.

Racheltjie Debeer ·

Miskien as die stadrade die stormwater stelsel skoon en instand hou sal daar nie soveel oorstromings wees nie.
Maar absoluut GEEN instandhouding word gedoen nie, maar die landsburgers moet betaal!

Tanja ·

As daar instandhoudings werk vir ons paaie en stormwater systeme gedoen word en damme bou om water op te vang sal die dorpe en stede nie verspoel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.