Nog TMPD-slagoffers kom na vore

Argieffoto bloot ter illustrasie van die Tshwane-metropolisie. (Foto: TMPD/Twitter)

Die burgerregteorganisasie AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig nou nóg vier vermeende slagoffers in strafregtelike sake wat teen beamptes van die Tshwane-metropolisie (TMPD) aanhangig gemaak is.

Dié nuwe sake dateer sover terug as 2017 nadat klagtes van onder meer aanranding by die polisiestasies in Erasmia, Olievenhoutbosch en Garsfontein aanhangig gemaak is.

Intussen het die geskorste metropolisiebeamptes Johnson Lebombo en Aubrey Phalane Maandag weer in die Pretoriase landdroshof verskyn in verband met een van verskeie strafregtelike sake teen hulle.

Dié betrokke saak is vandag tot Maart 2024 uitgestel sodat die verdediging sy verteenwoordiging aan die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings kan voorlê.

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, sê Lebombo, Phalana en Makgoba Ramokshakga is die beskuldigdes in verskeie sake waarin die privaatvervolgingseenheid ingevolge ʼn waaksaamheidsopdrag optree.

Die drie metropolisiebeamptes word ook deur verskeie interne dissiplinêre sake in die gesig gestaar, wat verband hou met soortgelyke aantygings, en is tans geskors.

Bateman doen nou ʼn beroep op lede van die publiek wat ʼn stel met metropolisiebeamptes afgetrap het om na vore te kom.

“Lede van die publiek moet die regte ding doen en na vore kom om te verseker dat diegene wat hul magsposisies misbruik om hulself te verryk uiteindelik aan die pen ry. Die eenheid sal voortgaan om slagoffers van hierdie soort misdade te ondersteun.”

Maroela Media het die afgelope naweek berig dat daar ná menigte voorvalle van korrupsie eindelik besluit is om die TMPD te herstruktureer.

Die herstruktureringsproses (wat ʼn verandering van die TMPD se topbestuur behels) kom ná talle klagtes van motoriste dat metropolisiebeamptes hulle intimideer en afpers, ten einde duisende rande in hul eie sak te steek.

Die Tshwane-metro het die afgelope jaar met dissiplinêre stappe teen meer as 250 lede van die TMPD begin. Meer as 40 is in hegtenis geneem en strafregtelik aangekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KB ·

Ontbind die TMPD. Hulle beteken niks deesdae…korrup, onbetroubaar, afwesig.

Jakes ·

As 250 lede aangekla is, hoeveel lede werk dan daar? Klink na n lekker werk want weinig van hierdie beamptes was in die verlede sigbaar gewees. Hoop die nuwe struktuur maak behoorlik skoon en dat daar nie weer kriminele indiend geneem word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.