Nog twee aangekeer vir moord op Groblersdal

Raymond Papapavlou (Foto: Facebook)

Nóg twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op Raymond Papapavlou – die 28-jarige plaasvoorman wat in Oktober 2020 in sy huis op ’n plaas tussen Stofberg en Groblersdal in Limpopo doodgeskiet is.

Papapavlou se vrou, Simone, en dié se destydse beweerde minnares, Patricia Ray Lee Smith, is reeds vroeër in hegtenis geneem in verband met die moord en sal na verwagting later vanjaar reeds verhoor word.

Nou word ’n ma en seun byna twee jaar later daarvan beskuldig dat hulle ook ’n aandeel in die moord op Papapavlou gehad het.

Lt.kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat ’n man en vrou op 25 Augustus vanjaar in hegtenis geneem is in verband met die moord op Papapavlou.

Die twee verdagtes is geïdentifiseer as Paulinah Mamolope Tseka en haar seun Calvin Tseka en hulle sal saam tereg staan op aanklag van sameswering tot moord.

Die vrou en haar seun is tans in aanhouding en sal vroeg volgende week aansoek om borgtog kan doen.

Patricia Ray Lee Smith en Simone Papapavlou vroeër in die landdroshof op Groblersdal. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Smith was aanvanklik die enigste aangekeerde in die saak nadat Papapavlou se liggaam in Oktober 2020 in die vroeë oggendure met verskeie skietwonde in sy plaashuis aangetref is.

Simone is egter maande later ook in hegtenis geneem.

Dié twee vroue word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om Papapavlou te vermoor en dit soos ʼn moontlike plaasaanval te laat lyk. Hulle was glo ten tyde van die moord in ʼn romantiese verhouding betrokke.

Simone voer aan haar man het die aand van sy dood op ’n bed in een van die plaashuis se slaapkamers gelê en slaap terwyl sy in die sitkamer televisie gekyk het.

Volgens haar het sy ’n skaduwee in die huis gesien waarna sy ’n skoot in die rigting van die slaapkamer gehoor het. Sy het toe self skote met haar vuurwapen in die rigting van die skaduwee afgevuur.

Dit sou egter later in die landdroshof op Groblersdal uitkom dat daar vyf maande voor die moord glo rotgif op Papapavlou se braaibroodjie gegooi is.

Die ondersoekbeampte ao. Debbie van Zyl het tydens Simone se borgtogaansoek verlede jaar getuig dat sy en Smith vir Papapavlou wou “uithaal” omdat hy na bewering in die pad van hul liefdesverhouding gestaan het.

Van Zyl het ook aangevoer dat geld nie as motief vir die moord uitgeskakel kan word nie, aangesien Raymond voor sy dood twee lewensversekeringspolisse uitgeneem en Simone die begunstigde gemaak het.

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vanessa ·

Hulle is gemors wat nie in die samelewing hoort nie. Siek spul!!!!

marius ·

Daar moet teruggekeer word na steniging in die openbaar . Daar is geen ander manier om hierdie verotte wanbalans te herstel nie . Die mens het aan homself regte toegedig wat totaal teenstrydig is met die lewe . Dit is hoekom die wereld ‘n totale gemors is .

Santie Gildenhuys ·

Daar word altyd vreeslik aandag gegee aan vroueregte. Vroue word beskou as die swakker geslag… Maar dan kry jy uitskieters (pardon the pun) soos hierdie twee slange en ook ander soos Suretha Brits. Dis dan wanneer ek die naïewe , doodgoeie mans so jammer kry. Jammer julle. Onthou net daar is baie great vrouens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.