Nog verligting in nuwe jaar by petrolpomp verwag

(Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Ten spyte van die wisselvallige rand en kommer oor skeepsroetes in die Rooisee, sal plaaslike brandstofpryse steeds na verwagting volgende week daal.

Gegrond op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds (SEF) verwag die Automobiel-Assosiasie (AA) dat die prys van petrol met sowat 54c per liter kan daal. Dieselpryse sal na verwagting aansienlik daal met tussen 94c en R1,02 per liter, terwyl paraffien met sowat 95c per liter kan daal.

Oliepryse het Woensdag gestabiliseer met ’n paar groot skeepsrederye wat deurgang deur ’n belangrike Rooisee-seestraat hervat het ná voortgesette aanvalle wat oliepryse hoër gedruk het. Die afwaartse beweging in internasionale oliepryse bly egter die hoofdryfveer agter die verwagte dalings, het die AA gesê.

“Hoewel ons verwag dat brandstof in Januarie goedkoper sal wees, bly ons bekommerd oor die algehele hoë pryse wat ’n impak op alle verbruikers het. Indien die verwagte dalings realiseer, sal petrolpryse steeds hoër wees as wat dit in Januarie vanjaar was, maar dieselpryse sal effens goedkoper wees as in die ooreenstemmende tyd. Ons moet dit alles sien in die konteks van verbruikers wat steeds herstel van skerp brandstofprysstygings in September en Oktober.”

Die AA sê verder hoewel 2024 op ’n positiewe noot vir verbruikers begin, is dit nog te vroeg om te bepaal of die neiging tot laer pryse sal voortduur, veral gegewe huidige geopolitieke verwikkelinge wat ’n impak op internasionale oliepryse het.

“Om hierdie rede is ’n volhoubare oplossing om stygende brandstofkoste te versag steeds nodig en totdat daardie oplossing gevind word, sal verbruikers aan die genade van brandstofprysverhogings uitgelewer wees. Ons doen weer ’n beroep op die regering om dringend met ’n deursigtige hersiening van die brandstofprysstruktuur te begin om hierdie oplossing te soek.”

Diesel met ʼn swaelinhoud van 0,05% is sedert begin Desember R2,35 per liter goedkoper terwyl die prys van diesel met ʼn swaelinhoud van 0,005% met R2,41 per liter gedaal het. Die prys van 93-oktaan- sowel as 95-oktaan-petrol het met 65c per liter gedaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.