Nóg vertel oor ‘skrikbewind’ in strate van Tshwane

Argieffoto bloot ter illustrasie van die Tshwane-metropolisie. (Foto: TMPD/Twitter)

Binne dae nadat Maroela Media ʼn berig geplaas het oor polisiebeamptes wat ʼn jong man in John Vorster-rylaan in Centurion voorgekeer en ure lank aangehou het, het talle ander lesers na vore gekom om ook nagmerrie-ervarings aan die hand van wetstoepassers in Tshwane te deel.

Ook dié motoriste is voorgekeer, gedreig en eindelik gedwing om duisende rande aan beamptes te betaal. Die lesers het almal ʼn stel met beamptes van die Tshwane-metropolisie (TMPD) afgetrap.

Die TMPD het intussen ʼn direktief uitgereik waarin motoriste toestemming verleen word om ʼn metropolisiebeampte se aanstellingsertifikaat aan te vra en selfs ʼn foto van die beampte of van sy of haar voertuig te neem.

Dit volg nadat die TMPD self oorval is met klagtes van motoriste wat onder korrupte metropolisiebeamptes deurgeloop het.

Gaan julle my verkrag?’

ʼn 28-jarige vrou van Menlo Park vertel dat sy en ʼn vriendin oor Paasnaweek sowat 50 m van haar woonkompleks voorgekeer is, waarna hulle twee uur lank in onderskeidelik haar voertuig en ʼn metropolisievoertuig rondgery is.

Die twee vroue het die betrokke oggend omstreeks 01:00 sowat ʼn kilometer huis toe gery toe metropolisiebeamptes in nie minder nie as drie metropolisievoertuie hulle voorgekeer het.

Die een voertuig het langs haar motor, die ander langsaan, en die derde agter haar motor stilgehou en haar só ingeperk. “Toe ruk die een polisiebeampte my letterlik uit die kar.”

Die motoris vertel dat die metropolisiebeamptes baie aggressief voorgekom het.

Die betrokke motoris is aanvanklik buite haar motor ondervra voordat sy teen haar motor vasgedruk en aangesê is om ʼn alkohol-blaastoets te doen. Die motoris het gevra vir ʼn verseëlde blaastoestel.

Argieffoto bloot ter illustrasie van die Tshwane-metropolisie. (Foto: TMPD/Twitter)

“Die een metropolisiebeampte het vir my gesê ek moet ophou vrae vra en toe haal hy dit sommer uit sy sak uit.

“Dit het soos ʼn speelding gelyk.

“Hy het dit vir my vasgehou en gesê ek moet blaas. En toe sê hy vir my, ‘oe, dit lyk nie goed nie’.”

Die polisiebeampte het egter geweier om die lesing aan haar te wys.

“Hy sê toe dit is langnaweek en ek moet weet hier is moeilikheid.”

Die motoris is daarna in een van die metropolisievoertuie saam met drie beamptes geboender, terwyl twee ander beamptes saam met haar vriendin ingeklim het. Die motoris was onder die indruk dat sy en haar vriendin na die Brooklyn-polisiestasie geneem gaan word.

“Hulle ry met ons en ek vra waarheen gaan ons. Maar hulle sê ek moenie praat nie. Hulle het ook my foon by my gevat.

“Ek het verskriklik begin huil. Ek vra toe: ‘Gaan julle my verkrag?’”

Hierop het die beamptes volgens haar geantwoord dat dit nie sou gebeur nie, mits sy saamwerk.

Die metropolisiebeamptes het in ʼn stadium met die motoris se pa op haar selfoon gepraat en hy is aangesê om geld oor te betaal. Die motoris is egter nie toegelaat om self met haar pa te praat nie.

Argieffoto bloot ter illustrasie van die Tshwane-metropolisie. (Foto: TMPD/Twitter)

Sy is later wel toegelaat om ʼn vriendin se man – met die foon op luidspreker – te bel en dié is na die Sunnyside-polisiestasie gestuur waar die beamptes die motoris sou aflaai. Die beamptes het egter weer van plan verander en gesê hulle sal haar “langs die pad” aflaai indien die vriendin se man R2 000 oorbetaal.

Die metropolisiebeamptes het eindelik met die motoris en haar vriendin in haar motor langs die pad stilgehou voordat die beamptes met R5 000, wat tussen haar pa en die vriend oorbetaal is, vort is.

Die jong vrou sy moes weens die voorval berading ontvang om die gebeure te probeer verwerk.

‘Totale teistering’

Nóg ’n motoris vertel dat hy en sy vrou in April ná 21:00 by die Atterbury-afrit voorgekeer is nadat hulle by ʼn restaurant in Menlo Park gaan eet het. “Ons het nie ʼn kat se kans gestaan nie. Ons het tussen ʼn klomp beamptes ingedraai.”

“Totale teistering” is wat die volgende 45 minute op hulle gewag het.

Die motoris vertel dat ʼn metropolisiebeampte hom ʼn blaastoets laat doen het. Die beampte het, soos in talle ander gevalle, egter geweier om die lesing aan die motoris te wys en volgehou dat hy die wettige limiet oorskry het.

“Dit was onmoontlik,” vertel die motoris aan Maroela Media oor sy pogings om die uitslag van die toets self onder oë te kry.

En net soos in soveel ander gevalle,het die metropolisiebeampte ook geld geëis.

“Die metropolisiebeampte het in ʼn stadium saam met my na my bank-app op my foon gekyk. Sy het gesien dat ek ʼn kredietkaartlimiet van R100 000 het. “Sy sê toe daar is báie geld. Ek kan vir haar R30 000 oorbetaal.”

Hy vertel dat ʼn ander beampte nadergestaan en op sy vrou se gevoel begin speel het. Daar is aan haar gesê dat haar man in ʼn vangwa gelaai en toegesluit gaan word.

“Ek het net bly staan en redeneer. My vrou het naderhand gesê sy het R100.”

Argieffoto bloot ter illustrasie van die Tshwane-metropolisie. (Foto: TMPD/Twitter)

Die metropolisiebeamptes het ingestem om dié geld te neem en het die motoris gevra hoeveel geld hy in sy beursie het. Hy het R400 by hom gehad.

R500 later en die egpaar is toegelaat om te ry.

“Hulle voer ʼn skrikbewind op en rondom die snelweë,” sê die motoris oor Tshwane-metropolisiebeamptes. “’n Ou voel so magteloos. Dit maak ook dat jy nêrens meer in die aand wil gaan nie. Hulle ontneem jou van jou vryheid.

‘Trek in die donker in’

Nog ʼn motoris het verlede naweek ook ʼn nare ervaring met metropolisiebeamptes gehad toe hy sy vrou ná 21:00 by ʼn restaurant in Centurion gaan oplaai het. Die motoris het op dié aand geen drank gebruik nie en is naby die Centurion-winkelsentrum voorgekeer.

“Toe hulle uitklim, sê hulle vir my ek moet so ʼn bietjie in die donker intrek.”

Die motoris het egter geweier om ʼn blaastoets te doen. “Hulle vra toe hoe gaan hierdie ding uitgesorteer word. Hulle wou my nie polisiestasie toe neem nie. Toe weet ek: hier is iets aan die gang…”

Die beamptes het die motoris sover gekry om R800 kontant aan hulle oor te betaal, voordat hy na ʼn kitsbank gestuur is om nóg kontant te onttrek. Hulle was egter skoonveld nadat hy van die kitsbank af teruggekeer het. Die metropolisiebeamptes het egter met die motoris se rybewys, wat hulle by hulle gehou het, verdwyn.

Sistemiese probleem

Dr. Johan Burger, ʼn onafhanklike misdaadkenner, sê alles dui op ʼn sistemiese probleem.

“Hierdie wetstoepassingsbeamptes werk dikwels saam op ʼn baie slinkse en georganiseerde wyse. Terwyl die een die onderhandelinge doen, sal die ander buite sig bly en aanduidings gee of hulle moet voortgaan of dit eerder moet laat vaar.”

Burger sê daar is ook nie genoeg vrees by korrupte wetstoepassingsbeampte ingeboesem dat daar teen hulle opgetree gaan word nie. Hy verduidelik dat die polisie en metropolisie sogenaamde teenkorrupsie-eenhede het om voorvalle van dié aard te pak, maar die eenhede sukkel dikwels met ʼn gebrek aan hulpbronne.

“Dit skep ʼn situasie waarin wetstoepassingsowerhede taamlik seker is dat hulle gaan wegkom met hierdie optrede.”

Argieffoto bloot ter illustrasie van die Tshwane-metropolisie. (Foto: TMPD/Twitter)

Burger se aanbeveling is om hierdie sistemiese korrupsie onder die onafhanklike ondersoekdirektoraat (Opod) se aandag te bring. “Dit is beslis sistemies. Daar is nie meer twyfel aan nie.”

Burger raai motoriste intussen aan om op hul regte aan te dring wanneer hulle sonder enige ooglopende rede voorgekeer word en selfs eerder op ʼn spoedkaartjie of boete aan te dring as om toe te gee aan die eise van korrupte wetstoepassingsbeamptes.

“Jy kan altyd agterna ʼn aanklaer nader, die situasie verduidelik en ʼn beter situasie vir jouself beding.”

Hy gee egter toe dat dié reaksie dikwels met antagonisme en vyandigheid begroet word.

“Die gevolg hiervan is dat motoriste wat heeltemal binne die reg optree, bang is om hul regte uit te oefen en met polisiebeamptes in ʼn argument betrokke te raak.”

Maroela Media het vandeesweek ʼn navraag na die Tshwane-metropolisie gestuur oor die beweerde korrupsie onder beamptes en wag op terugvoer.

Argieffoto ter illustrasie.

Slagoffers bang vir nóg trauma

In die meeste gevalle het geteikende motoriste verkies om nié die voorvalle by die polisie of ander owerhede aan te meld nie. Soms was die rede hiervoor omdat motoriste gevoel het dat hulle omkoopgeld betaal het – selfs al was dit onder dwang – en bang is dat hulle self in die moeilikheid kan beland.

In nog ʼn geval was ʼn slagoffer bang dat sy gekruisig sou word omdat sy laatnag nog nie tuis was nie, terwyl die trauma vir ander eenvoudig net té veel was en hulle nie aan enige verdere moontlike teistering blootgestel wou word nie.

Meld hier aan:

Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in die Tshwane-metroraad,  het intussen die volgende nommers verskaf waar motoriste voorvalle soos dié in die Tshwane-metrogebied kan aanmeld:

012 358 7095

083 657 2998

083 437 7987

081 507 5052

  • Maroela Media het ʼn navraag aan die Tshwane-metropolisie gerig en kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Ons het dit aangemeld en niks het daarvan gekom. Ons half laat voel ons van in die verkeerd en mors hulle tyd om aan te meld

CHRISTINE ·

‘n Simptoom van die van die jarelange anc terrorisme. DIs nou die norm. Niks fout. Veral na 2020 se stories, kan die anc net nie terugkeer na normaal in terme van magsbeheptheid en state of disaster want dis wat hulle is.

Pierre ·

Dalk moet paar manne hulle in lokval lei en MOOI verduidelik dit is lelik om dit te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.