Noordwes-boere probeer verbete brande blus

Argieffoto bloot ter illustrasie. 

Sowat 70 000 ha weiding is reeds in die Kagisano Molopo- plaaslike munisipaliteit in Noordwes vernietig, waar minstens 15 wegholbrande in die Ganyesa- en Morokweng-gebied al vir langer as ’n week gelyktydig woed.

Boere in die omgewing probeer al sedert verlede Woensdag die vuur blus. Teen Donderdagmiddag (dag nege) was daar steeds brande wat onbeheers woed.

Die DA doen nou ’n beroep op die departement van samewerkende regering en tradisionele sake en menslike nedersettings in Noordwes om dringend hulp te verleen aan die boere en landelike gemeenskappe wat deur die verwoestende wegholveldbrande geraak word.

Gavin Edwards, die DA se provinsiale woordvoerder oor landbou en landelike ontwikkeling, sê boere in die Kagisano Molopo- plaaslike munisipaliteit moes die afgelope 30 dae nie minder nie as 30 brande bestry.

Eiendom, vee en oeste is die afgelope nege dae deur verskeie wegholbrande vernietig, terwyl slegs twee plaaslike brandweerwaens en brandbestryderspanne beskikbaar gestel is om die boeregemeenskap by te staan. Veral staats- en stamgrond word deur die brande geraak, sê Edwards.

’n Plaaslike boer, wat verkies het om anoniem te gesels, het Donderdag aan Maroela Media gesê ’n veldbrand het agt dae lank op sy plaas naby Morokweng – sowat 130 km van Vryburg – gewoed voordat dit eindelik Woensdag in bedwang gebring kon word.

Tussen 600 en 700 ha weiding is in die proses vernietig.

“Daar is boere wat alles verloor het, wie se plase heeltemal afgebrand het.”

Dit is nie duidelik wat die oorsaak van die wegholbrande is nie. Die boer sê wel die brand op sy plaas het uit die rigting van Morokweng gekom en is aangevuur deur ’n sterk wind.

Edwards sê op sy beurt versoeke om bystand van die provinsiale rampbestuursentrum het tot Woensdag nog onbeantwoord gebly. Die rampbestuursentrum het egter intussen “ná meer as ’n week van verwoesting” besluit om ’n gesamentlike operasie te vestig.

Edwards sê dít moes voor die veldbrandseisoen reeds ingestel gewees het.

“Die rampbestuursentrum in die provinsie kon nie daarin slaag om voldoende voor te berei vir ’n ramp soos hierdie nie. Dit is tans die veldbrandseisoen, maar die rampbestuursentrum het nie maatreëls ingestel om vinnig op moontlike brande te reageer nie.”

Volgens Edwards het die DA reeds verskeie vrae aan die departement gestel oor die gereedheid en doeltreffendheid om veldbrande te voorkom. Die LUR Lenah Miga het bloot daarop geantwoord dat die departement “altyd gereed is”.

“Die stelling is nou as vals bewys weens die vernietiging in Kagisano Molopo,” sê Edwards.

“Die DA sal ’n skrywe aan LUR Miga rig om ’n ramptoestand in Kagisano Molopo te verklaar sodat bykomende hulpbronne beskikbaar gestel kan word. Ons sal ook ’n oudit van die rampbestuursentrum se toerusting aanvra, wat die toestand van die toerusting tesame met tekorte in die provinsie sal weerspieël.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pannies ·

Meeste van die staatsinstellings wag net daar vir payday.
Die publiek moet hulle finansier en dan self die werk doen of weer vir die diens betaal.

Frank ·

Ek stem nie saam met die anonieme boer nie. Of die area is verkeerd weergegee. ‘n Wegholbrand, aangevuur deur ‘n sterk wind gaan baie beslis nie oor ‘n periode van 8 dae SLEGS 700 hektaar vernietig nie. Gaan duisende vernietig.
700 hektaar in 8 dae gaan jou baie geleentheid gee om rustig brandpaaie te skraap en voorbrande te maak. AS DIT NIE VOOR DIE BRANDSEISOEN REEDS GEMAAK IS NIE, VOLGENS WETGEWING.
Maar miskien is sy plaas bv 5000 hektaar wat alles afgebrand het, en sy weidingskampe beslaan slegs 700 hektaar. Of so iets

Christine ·

Daar het nou in die Noordkaap 200,000 hektaar afgebrand. Die boer maak beslis ‘n berekenings fout.

007 ·

Frank, die 700 – 800 hektaar is net op sy plaas. Nie alles nie. En meeste van hulle het brandbane, maar met sterk wind en die bosagtige omgewing daar waai een takkie oor daai brandbaan en siedaar!

Casper ·

Hoekom so skielik so baie brande,eers in die Noord Kaap en nou Noordwes.Is dit opsetlike brandstigting om boere verder te knak.Wie sit agter hierdie dade.

Christine ·

Ek glo dis die EFF, het ‘n video gesien waar’ n bruinman in die Noordkaap gesê het dat dit brandstigting is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.