Noordwes-premier moet reageer op ongerymdhede by Mmabana – hof

Noordwes-premier Job Mokgoro (Foto: ANA)

Die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, het Donderdag ’n mandamus-aansoek toegestaan wat die Noordwes-premier dwing om te reageer op bevindings oor ongerymdhede met betrekking tot die Mmabana-stigting. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die aansoek teen pres. Cyril Ramaphosa, Job Mokgoro, die premier van Noordwes, die departement van kuns, kultuur, sport en rekreasie asook die Mmabana-stigting vir kuns, kultuur en sport gebring.

Die aansoek is deur die privaatvervolgingseenheid namens Phatolo Kau gebring om die premier te dwing om ’n besluit te neem oor optrede ná ’n forensiese ondersoek na ongerymdhede by die Mmabana-stigting.

Kau het reeds in Oktober 2014 as hoof van menslike hulpbronne by die stigting ongerymdhede by die premier aangemeld, waarna die premier ’n forensiese ondersoek daarna versoek het. Die private ondersoekmaatskappy Nexus Forensic Services is destyds aangestel om die ondersoek te behartig, wat volgens dié maatskappy reeds in Augustus 2016 voltooi is.

Dit het later onder Kau se aandag gekom dat die verslag aanbevelings insluit wat behels dat die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke, oftewel die Valke, ’n verdere strafregtelike ondersoek na die ongerymdhede moet doen.

Kau het die privaatvervolgingseenheid in 2019 genader nadat die premier versuim het om op sy skrywes te reageer om ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting toegang tot die verslag te kry. Die privaatvervolgingseenheid het toe ook skrywes aan die premier en selfs Ramaphosa gerig.

Die hof het nou gelas dat die premier binne 14 dae ’n finale besluit neem oor die inwerkingstelling van die aanbevelings in die verslag. Die respondente moet ook ingevolge die hof se beslissing die koste van die aansoek betaal.

Wico Swanepoel, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, sê die eenheid verwelkom die hof se beslissing. “Die premier se kantoor het vroeër vandeesweek die volledige forensiese verslag aan ons gestuur in wat blyk ’n poging is om te keer dat die aansoek vandag voortgaan. Dit het egter klaaglik misluk en ten spyte daarvan dat die premier ’n kortpad wou neem, het die aansoek geslaag.”

Volgens Swanepoel was dié saak uit die staanspoor ’n eenvoudige saak wat maklik deur die premier opgeklaar kon word. Die mandamus-aansoek was egter die laaste uitweg nadat nie een van die respondente die verslag verskaf het nie.

Swanepoel sê politici en amptenare behoort kennis te neem van die gevolge wanneer ondersoekverslae bloot ignoreer word. “Daar is ongelukkig ’n groeiende gewaarwording dat die staat slegs optree indien die howe hulle daartoe verplig. Die premierskantoor word nou nie net verplig om sy plig te doen nie, maar het deur dié optrede vir hulself ’n kostebevel op die hals gehaal. Dié koste word ongelukkig verhaal uit belastinggeld wat in dié tyd veel beter aangewend kon word.

“Al wat ons met hierdie aansoek wou bereik, is dat die premier sy plig doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie J ·

Die hof moet die premier opdrag gee om sy werk te doen. Viva piesangland, viva!! Ek sou graag wil weet of die OG uitgeslape genoeg gaan wees om, wanneer die regskostebevel betaal word, te bepaal dat dit vrugtelose uitgawe was en dan te bepaal dat die premier (of dan nou die een wat slapgat was) dit uit eie sak betaal.

JohanR ·

Moenie hom aanjaag nie. Die Premier werk nog sy lieg storie uit!

Aikie ·

Terwyl hy sy liegstorie uitwerk, moet die hof gelas dat due geld uit sý gatsak kom en nie die belasting betaler nie. Dan gaan jy sien hoe kan hy sy agterent roer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.