NSFAS: Kommer oor studente ná raad ontbind

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Ikusasa, ʼn finansiële hulpprogram vir studente (ISFAP), is diep bekommerd oor wat van studente gaan word nadat die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) se raad Donderdag ontbind is.

Die R53,6 miljard is immers aan NSFAS toegewys om meer as een miljoen studente gedurende die 2024- akademiese jaar te finansier.

“Met soveel jong mense wat van NSFAS afhanklik is om te studeer, is ons bekommerd dat die skema gaan sukkel om studente in nood te help,” sê Morné du Toit, uitvoerende hoof van ISFAP.

Dit geld veral vir die sogenaamde middelsegment van studente wat onlangs ook van NSFAS afhanklik geword het ná die aankondiging dat ’n leningskema van R3,8 miljard aan hulle beskikbaar gestel gaan word, sê Du Toit.

“Die studente kom uit gesinne wat tussen R350 000 en R600 000 per jaar verdien, wat beteken dat hulle te veel verdien om vir NSFAS-befondsing te kwalifiseer, maar te min om universiteitsgelde en die gepaardgaande koste van studie in reële terme te bekostig.”

Intussen stap die akademiese jaar vinnig aan.

Du Toit sê die halfpadmerk van die akademiese jaar wink en baie studente sukkel reeds om hul uitdagende akademiese kursusse onder die knie te kry. Die jong mense sal nou ook finansiële uitdagings beleef gegewe NSFAS se situasie.

Du Toit sê ISFAP is bereid om te help om stelsels in te stel wat NSFAS sal ondersteun in sy noodsaaklike taak om studente in nood te help.

Maroela Media het vanoggend berig dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovering, het Donderdagaand nadat hy met die raad vergader het, bekend gemaak dat hy die raad ontbind.

Daar is vroeër die middag ook bekend gemaak dat Ernest Khoza, raadsvoorsitter, bedank het.

Nzimande het NSFAS ook onder administrasie geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marina ·

Hel hoe kan iemand met so inkomste (R50 000pm) nie sy kind op verder opleiding voorsien?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.