NSFAS-voorsitter bedank, raad ontbind

Blade Nzimande (Foto: GCIS)

Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) se raad is ontbind kort nadat sy voorsitter bedank het.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovering, het Donderdagaand nadat hy met die raad vergader het, bekend gemaak dat hy die raad ontbind. Daar is vroeër die middag bekend gemaak dat Ernest Khoza, raadvoorsitter, bedank het.

Nzimande het NSFAS ook onder administrasie geplaas. “Die regsgevolge van hierdie besluit sal in die Staatskoerant gekommunikeer word,” het Nzimande in ʼn verklaring gesê en bygevoeg dat hy Sondag ʼn mediakonferensie sal hou om verdere stappe wat uit hierdie besluit voortspruit, bekend te maak.

Khoza se bedanking kom nadat hy in Januarie spesiale verlof geneem het te midde van bewerings van grootskaalse onwettighede in die toeken van tenders aan sekere diensverskaffers. Hy het tydens ʼn spesiale raadsvergadering versoek om op vrywillige verlof van 30 dae geplaas te word ten einde die raad die geleentheid te gee om die bewerings teen hom te ondersoek.

Volgens Nzimande is hy bewus van, en diep ontsteld deur, die voortgesette probleem van wanbetaling van studentetoelaes deur NSFAS. Hy het onder meer opdrag gegee dat ʼn taakspan gestig word om TVET-kolleges en universiteite, waar ernstige NSFAS-verwante probleme ervaar word, te besoek.

Daar is volgens Nzimande reeds betalings gemaak aan instellings wat geldige registrasierekords ingedien het. Meer as R511 miljoen is aan TVET-kolleges betaal en R2,3 miljard aan universiteite.

“Ongelukkig het nie alle TVET-kolleges en universiteite voldoen aan die NSFAS-sperdatum van 15 Maart vir die indiening van studenteregistrasiedata om die betaling van toelaes te vergemaklik nie. Die versuim om daaraan te voldoen het bygedra tot die jongste sporadiese studentebetogings.”

Volgens Nzimande het NSFAS sy diensadministrateurs gestuur om saam met die TVET-kolleges en universiteite wat nie voldoen nie, te werk om die indiening van studenteregistrasiedata te finaliseer en te verseker dat die uitstaande studentetoelaes in die volgende siklus betaal word.

Die minister het om verskoning gevra aan alle studente wat deur die wanbetalings geraak word en gesê sy departement werk onverpoos om te verseker dat alle verdienstelike studente die nodige ondersteuning van NSFAS ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

annie ·

Wanneer bedank ou Blade? Maar nee, ek vergeet hy is, soos Zuma, ‘n onvervangbare juweel in die fanfare van die beroemde ANC- brigade. Hy sal aanbly al tref ‘n lugskip vanaf Mars Eskom se hoofkantoor en ons parlement in Kaapstad… O!, jy sê, dit het al.

MARELIZE ·

En die nasionale gesondheidsorg skema gaan beter werk???

Republikein in die Wes Kaap ·

NSFAS se jaarlikse begroting is byna R50 miljard. Meer as 1 miljoen studente ontvang geld. Knap mense moet hierdie monster bestuur.

Raadsman ·

Hoe dan nou?
Werk sosialisme nou nie meer nie? Ons het gedink die geld val uit die lig uit!

Kokerboom ·

Raadsman sosialisme werk net totdat die ander ou se geld opraak!
NSFAS is ‘n bodemlose put wat swak bestuur word en belastingbetalersgeld in vele opsigte vermors word. Te veel studente word toegelaat tot hoër Onderwysinstellings en swak prestasiemeting vind plaas. Belangrike tegniese opleiding word verwaarloos

JohanR ·

Stink ryk kommunis. Wonder wat sal gebeur met die SAKP en Cosatu as die ANC die 2024 verkiesing verloor. Sal die stink ryk kommunis nog ‘n werk he?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.