NSFAS, Nzimande woedend oor Outa-bewerings

Minister Blade Nzimande en Ernest Khosa van NSFAS. (Foto: X)

Die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande, asook die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) sê hulle is woedend oor Outa se verklaring waarin daar aangedring word dat Nzimande en Ernest Khosa, voorsitter van die NSFAS-raad, uit hul amp verwyder word.

Maroela Media het vroeër berig bewerings van ʼn patronaatskapnetwerk in die departement van hoër onderwys doen tans die rondte. Nzimande en Khosa word direk geïmpliseer.

Outa het ʼn ondersoekverslag en twee stemopnames met die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) – wat sedert 2022 korrupsie by NSFAS ondersoek – gedeel om die verdoemende bewerings te steun.

“Khosa het die stemopname en insinuasie dat hy geld ontvang het, wat vir hom, minister Nzimande, en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en ander derde partye bedoel was, ten sterkste en met minagting verwerp,” lui ʼn verklaring van NSFAS.

“Die NSFAS-raad neem kennis dat sommige gewetenlose individue en organisasies terugveg om NSFAS se fokus op die implementering van die aanbevelings wat in die verslag van Werksmans Prokureurs vervat is, te ontspoor.

“Dit is ook interessant om daarop te let dat die Outa-verklaring saam met NSFAS se raadsbesluit kom om met regstappe te begin om kontrakte van diensverskaffers vir direkte betalingsoplossings te beëindig.”

Luidens die verklaring is die NSFAS-raad se eerste prioriteit om voorbereidings vir die suksesvolle begin van die 2024‑ akademiese jaar te finaliseer.

Dr. Blade Nzimande. (Foto: GCIS)

“Terwyl NSFAS die kritieke rol wat burgerlike organisasies speel, respekteer, is dit nou duidelik dat Outa geleidelik wegbeweeg van sy beweerde ‘hoë morele waardes’ en ‘onpartydigheid’.

“Dit is ook ʼn kommerwekkende neiging dat Outa se opeenvolgende ‘ondersoekende’ verslae gekenmerk word deur voorspraak vir sakebelange van sommige individue en maatskappye wat moontlik onsuksesvol probeer het om besigheid by NSFAS te werf,” lui die verklaring.

Nzimande het in ʼn verklaring gesê hy wil graag die publiek verseker dat hy nooit enige geld van enige van die departement se entiteite gebruik het vir die doel om die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) te finansier nie.

“Die bewerings in die uitgelekte verslag is roekeloos en grootliks op skinderpraatjies gegrond. Dit is bedoel om ʼn suksesvolle begin van die 2024‑ akademiese jaar te ondermyn,” sê hy.

“En gegewe die skadelike bewerings wat in hierdie verslag voortgesit word, behou ek my reg voor om die nodige regstappe te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.