Numsa-staking eindelik afgelas

Numsa het sy staking eindelik afgelas. (Foto: Numsa/Twitter)

Die nasionale staking in die ingenieursbedryf, wat reeds drie weke lank duur, is afgelas nadat die metaalvakbond Numsa ʼn algemene verhoging van 6% van die werkersorganisasie Seifsa aanvaar het. Die ooreenkoms geld vir drie jaar.

Numsa het egter nog nie ʼn ooreenkoms met die National Employers’ Association of South Africa (Neasa) gesluit nie, maar het ingestem om die staking in sy geheel op te skort. Verskeie ondernemings is deur die staking lamgelê.

Die vakbond het vroeër vandeesmaand ʼn onbepaalde staking aangekondig nadat loononderhandelings met Neasa ʼn dooiepunt bereik het. Die vakbond sê nou hulle sal probeer om die ooreenkoms met Seifsa na Neasa uit te brei, maar dié het Vrydag gesê só ʼn ooreenkoms sal onbekostigbaar wees. Hulle beveel steeds aan dat werkgewers ʼn 5%‑verhoging implementeer, indien hy dit kan bekostig.

Numsa het aanvanklik ʼn loonverhoging van 15% vir al sy lede geëis, maar het dit later tot 8% verlaag en eindelik 6% van Seifsa aanvaar.

“Ons het in die belange van ons lede die voorgestelde verhoging aanvaar, aangesien dit die werkers is wat die meeste onder dié staking gelei het,” sê Irvin Jim, algemene sekretaris van die vakbond.

“Elke dag wat die staking voortduur, word die werkers nie betaal nie en dit is ons mandaat om te verseker dat alle werkers regverdig vergoed word.”

Numsa het ingestem dat die laags besoldigste werkers vir die eerste jaar ʼn minimum loon van R52,52 per uur kry, R55,67 in die tweede jaar en R59,01 in die derde jaar. Diegene wat op ʼn hoër vlak in die bedryf is, sal ʼn loonverhoging van tussen 5% en 5,5% ontvang.

Lucio Trentini, uitvoerende hoof van Seifsa, het die skikkingsooreenkoms verwelkom en sê dit is te danke aan daadwerklike en gesamentlike leierskap.

“Ons is baie bly dat die staking eindelik verby is. Dit is nou die plig van alle belanghebbendes in die metaal- en ingenieursbedryf om saam te werk om dié bedryf te herbou en verder te laat groei.”

Hoewel die vakbond nie met Neasa kon skik nie, sê die werkersorganisasie dat sy voorgestelde loonverhoging van 5% slegs geïmplementeer moet word wanneer die werkers wat aan die staking deelgeneem het, terugkeer werk toe.

“Daar sal ook geen dissiplinêre stappe teen dié werkers gedoen word nie. Daar sal wel stappe teen ʼn aantal geïdentifiseerde werkers gedoen word wat hulle tydens die staking aan wangedrag skuldig gemaak het,” sê Neasa.

Volgens Jim sal alle werkers in die bedryf na verwagting vanaf Vrydag weer by die werk wees of op die laatste teen Maandag.

“Die loonverhoging is vir alle werkers in die bedryf en dit is nou die verantwoordelikheid van ander vakbonde om Numsa in kennis te stel of hul werkers die verhoging aanvaar, al dan nie,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Pieter ·

Hulle regeer mos die land saam die anc. En elke keer buig die groot maatskappy die knieg vir die klomp. Kry vir ou fatcher laat sy julle kom wys hoe werk jy met die unies. Die selarisse word al hoe meer en die produksie al hoe minder. Lyk vir my dit is hoe dit werk in anc land.

Snowball ·

As jy na Margaret Thatcher verwys as ‘ou Fatcher’ neem kennis sy is reeds oorlede en dit is nogal disrespekvol om so te praat van iemand van haar kaliber; sy was immers een van die min beginselvaste politici wat openlik (en heel profeties) gesê het die ANC sal SA nie kan regeer nie.

Theo ·

“We want… we want… we want to be paid more for less work” Suid Afrika se nuwe slogan…

Elize ·

Ag lekker man. Ons is te lui om te werk. Wil net meer en meer he vir minder. Ons bly stem vir dieselfde lee beloftes sodat ons meer en meer kan staak en die land ‘n kleiner kans gee om ooit weer sterk te staan

annie ·

Hoe enige werkgewer in dae soos dié vooruit verhogings kan beloof is dom of is daar ‘n slim skuiwergat. As mens die spul stakers so beskou wonder jy hoeveel werk hulle bedags verrig want hul kla-spiere is sterker ontwikkeld as hul maagspiere en dis erg…

Misky ·

Ook maar lekker stupid….. meeste van hulle gaan nou net een week se salaris kry. Wie lag en wie huil nou?

Snowball ·

Die Wiskunde ontbreek. Die Unie manne wat hulle so aanhits om te staak daarenteen, vlieg besigheidsklas en mis nie ‘n dag se salaris nie…

Eclectus ·

Lekker gelag toe ek op die radio hoor Seifsa het ‘n 6% verhoging eensydig en ononderhandelbaar ingestel en Numsa toe kla Seifsa ondermyn die staking. BOE!

Owlie ·

Dis duidelik dat hier nie covid vrese/social distancing is nie. Wat dink hulld gaan gebeur as al die hardwerkende mense begin staak oor verhogings kos en petrol pryse wat onnodig hoog is, swak diens wat n fortuin kos en vele meer Dis tyd dat alle units op verpligte permanrnte onbetaalde pensioen gesit word

Di ·

Dis juis oor al hierdie stakings dat werkloosheid toeneem! Besighede kan nie byhou met al die stakings, loon verhogings en wegbly aksies nie. Gaan maar so aan, een van die dae sit julle spul ook sonder werk

Shakespeare ·

Die vakbonde ( behalwe Solidariteit) is die grootste oorsaak van werkloosheid en spanning tussen werkgewer en werknemer. Die bestuur sorg net vir hul eie sakke.

Kokerboom ·

Stadig maar seker is vakbonde besig om irrelevant te word.Wen van hofsaak deur NEASA is ‘n doodskoot

Nettie ·

Hulle werk nie maar soek verhoging. En waar is die opstand teen Covid hulle drom om mekaar soos n klomp skape.

Retha ·

Een groot probleem van Salaris verhogings is dat produkte net duurder word, want die werkgewer moet daardie verhogings op manier verhaal. Staal is alreeds so duur. Mense wat staal werke verkies, soos diefwerings, herstel aan enige produk wat van staal is, dink die persoon wat die werk doen is buitensporig duur, maar dan word nie in ag geneem dat die staal se prys gedurig gelig word nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.