Nuus oor petrolprys gee SA’ners blaaskans

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Suid-Afrikaners het Donderdag ʼn sug van verligting gegee nadat die minister van finansies, Enoch Godongwana, aangekondig het dat die algemene brandstofheffing tydelik opgeskort gaan word.

Dít nadat brandstof die afgelope tyd hemelhoë pryse bereik het weens die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne. Die prys sou na verwagting vandeesmaand nóg hoër styg.

Talle groepe verwelkom daarom dié besluit en voer aan dat dit ʼn nodige stap is om te verseker dat burgers steeds kop bo water kan hou in die huidige ekonomiese omstandighede.

“Met die konflik tussen Rusland en Oekraïne wat voortsleep, word daar verwag dat die internasionale pryse van ruolie, saam met dié van ander noodsaaklike goedere, verder sal styg en dus ʼn uitwerking op die prys van goedere in Suid-Afrika sal hê,” sê die vakbond Uasa.

“Die ingryping in die brandstofprys is dus ʼn broodnodige stap wat wyd verwelkom word.”

Die DA voer aan dat hierdie opskorting nou die druk van stygende voedsel- en vervoerpryse sal verminder wat ook onmiddellike verligting vir alle Suid-Afrikaners sal bring.

Godongwana het Donderdag gesê dat die brandstofheffing vir die volgende twee maande opgeskort word, waarna nog maatreëls moontlik ingestel sal word om die pryse te help verlaag.

Die algemene brandstofheffing sal vanaf Woensdag 6 April tydelik met R1,50 per liter verminder tot Dinsdag 31 Mei 2022. Dit beteken dus dat brandstofpryse nie vandeesmaand weer sal styg nie.

Dié bedrae sluit ander heffings soos die Padongelukkefondsheffing en die koolstofheffing uit.

Uasa meen die moontlikheid dat bykomende maatreëls ingestel sal word om die brandstofpryse te verlaag, is verblydende nuus.

Volgens die vakbond moet daar onder meer ʼn pryslimiet op 93-oktaan-petrol geplaas word; die basiese brandstofprys moet met 3c per liter verlaag word en die DSML-heffing van 10c per liter op 95-oktaan- loodvrye petrol wat in die binneland verkoop word, moet opgehef word.

Langtermynoplossing nodig

Hoewel die VF Plus tevrede is met Godongwana se aankondiging, voer hy aan dat die dieperliggende oorsaak vir die verhoging van brandstofpryse oor die afgelope twee dekades eerder aangepak moet word sodat dit voortaan beter bestuur kan word.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP van minerale hulpbronne en energie, sê die brandstofpryse het nie weens verhoogde oliepryse vir jare nou al gestyg nie, maar eerder omdat die waarde van die rand verlaag het.

“Om die rand se waarde te verhoog, moet die ekonomie nie benader word as ʼn brood wat verdeel moet word sodat almal ewe veel het nie, maar as iets wat moet groei sodat almal genoeg kan kry. As dit gebeur, sal minder rande nodig wees om ʼn vat olie te koop.”

Die minister van minerale hulpbronne en energie het vroeër voorgestel dat die inkomste wat verbeur word weens die heffing wat opgeskort word, nou deur die verkope van ruolie-reserwes wat die Strategiese Brandstoffonds hou, ingesamel word.

Dié verkope moet minstens R6 miljard inbring.

Volgens Boshoff is dit egter riskant om van die strategiese oliereserwes te verkoop.

“Dit is soos ʼn dam se water wat slegs tydens droogtes gebruik moet word, maar ʼn mens weet nooit hoe lank die droogte gaan duur nie.”

Dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies, stem saam dat hierdie besluit uiters roekeloos is.

“Die doel om reserwes aan te hou, is om te verseker dat Suid-Afrika se brandstof nie opraak tydens ʼn noodsituasie wat nie maklik voorsien word nie,” sê hy.

“Suid-Afrikaners het meer besonderhede nodig oor wat hierdie transaksie sal behels en hoe die reserwes aangevul sal word, en teen watter prys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jaco ·

Gaan die die huidige petrolprys dieselfde bly maar die brandstofheffing word afgetrek, OF gaan die huidige prys eers met R2.15 verhoog word en die heffing van R1.50 dan afgetrek word?

Wat op dees Aarde ·

Ek het op ‘n ander nuusblad gesien dat die R1.50 skorting afgetrek word van die R3.65 verhoging, wat dan die totaal gaan bring na ‘n verhoging van R2.15 op die einde van die dag. So brandstof gaan steeds met oor die R2 op die 6e April.

VaalDonkie ·

Ek sit nou nog met 30L in my tenk wat ek begin Maart ingegooi het. Want my kantoor is net 7 tree van my slaapkamer af. Ek is baie dankbaar dat ek so bevoorreg is.

Alfred E Neuman ·

R1.00 af, R3.00 op, R0.50 af, RR4.00 op, ens. Die verbruiker wen nooit nie.

Papsak ·

Nee wat ons sal maar net bly verloor waar gaan dit alles eindig

Manie ·

Hoekom styg diesel se pryse dan so baie, bykans 4 keer meer as petrol?

Ou Baardbek ·

Vriend Manie, want plaas trekkers brand mos diesel? Hoe anders kan ons benadeel word sonder om onnodige aandag te trek? U en ek wat ander diesel aangedrewe voertuie elke dag gebruik, is bloot ‘n sekondêre oorweging, om die wurggreep net meer effektief te maak!

Swerwer ·

Prys sal sekerlik verhoog die R1.50 gaan net nie daarby gevoeg word nie.

Duck ·

Mense, dit is die 1st April, moet nie als glo wat jul lees nie! Beslis nie as dit van die staat se kant af kom nie.

Jacobus ·

Is die land se oliereserwes nie jare terug al vir onder markprys verkoop deur Tina Joemat Pieterson nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.