Nuwe blomspesie in Langeberge ontdek

Dié spesie van die Iridaceae-familie is deur die Suid-Afrikaanse botanis Brian du Preez ontdek. (Foto: Brain du Preez)

ʼn Nuwe blomspesie is hoog op in die Langeberge in die Wes-Kaap ontdek.

Die spesie van die Iridaceae-familie is deur die Suid-Afrikaanse botanis Brian du Preez ontdek en Geissorhiza seracina (kersiesatyn) gedoop. Die blom se naam verwys na die diep kersiepienk kleur van die blare.

Du Preez, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê hy was in Desember verlede jaar op ʼn twee dag lange staptog van 40 km saam met sy vriend en mentor prof. Peter Linder op die Boosmansbos-wildernisroete, toe hy die blom die eerste keer opgemerk het.

“Ek het foto’s van die blom geneem, maar nie ʼn monster gevat nie. Dit was eers toe ek by die huis kom en foto’s van die blom aan dr. John Manning, ʼn kenner van die Iris-blomfamilie, stuur, dat ons besef het dit is waarskynlik ʼn nuwe spesie,” vertel Du Preez.

Manning is verbonde aan die Compton Herbarium aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi).

Du Preez is ʼn week later weer terug op met die berg en het die staptog van 34 km in nege uur voltooi, ten einde ʼn monster van die blom te kry, sodat dit ontleed en ʼn beskrywing van die spesie se morfologie verkry kon word. Hy het ook van die bolle teruggeneem om in die US se botaniese tuin bewaar te word.

Du Preez het toe die hulp ingeroep van nog ʼn vooraanstaande kenner van die Iris-familie, prof. Peter Goldblatt, senior kurator van die Missouri-botaniese tuin in die Amerikaanse deelstaat St. Louis. Saam het hulle in September ʼn beskrywing van die nuwe spesie in die South African Journal of Botany gepubliseer.

Luidens ʼn verklaring deur die US bring die mees onlangse ontdekking die getal Geissorhiza-spesies in Suid-Afrika op 106 te staan, met 24 wat sedert 1985 ontdek is. Nuwe spesies word voortdurend in die minder toeganklike dele van die groter Kaapse blomdraende omgewing ontdek.

Hierdie nuwe spesie is tot dusver nog nie in ander gebiede aangetref as waar Du Preez dit ontdek het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Perdeby ·

‘n spesie kom nie net uit die bloute iewers op nie, of het die wortels onder die grond gegroei en daar begin opkom. Nog niemand wat daardie roete gestap het, het so in diepte belanggestel omtrent die mooi plant nie. Dink jy was maar net gelukkig gewees

E ·

Dit is ‘n pragtige lelie, ek hoop iemand kan hulle kommesieel bemark, maar dit sal seker lank neem om te kweek om genoeg te he vir kommersiele doeleindes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.