Nuwe hoop vir kleuter met nekgewas

Janique Venter [Foto: Hulp en Gebede vir prinses Janique/ Help and prayers for princess Janique/Facebook]

Hulle gebede is verhoor.

ʼn Biopsie het onlangs gewys die groeiende gewas in die vyfjarige Janique Venter se nek is nie meer kwaadaardig nie.

Dit beteken die gewas kan nie meer versprei nie, maar dit kan steeds groter word.

“Ná die afgelope jaar van terugslae en valse hoop skep hierdie nuus werklik hoop. Ons glo van hier af kan dit net nog beter gaan,” vertel klein Janique se ma, Nadine Mukheibir.

Janique was maar ses maande oud toe fase 3-neuroblastoomkanker by haar gediagnoseer is.

Neuroblastoom is ʼn seldsame kanker waar gewasse uit onvolwasse senuweeselle in verskeie dele van die liggaam ontwikkel.

Mukheibir het verlede jaar tydens Maroela Media se besoek aan Janique se kleuterskool, Kimmie Kids-kleuterskool in Bloemfontein, vertel dat die enigste opsie vir haar dogtertjie se genesing in daardie stadium ʼn geengeteikende antineoplastoon-behandeling in Texas in die VSA was.

Dít lewer glo hoogs belowende resultate met die behandeling van neuroblastoomkanker.

Janique Venter en haar ma, Nadine Mukheibir [Foto: Hulp en Gebede vir prinses Janique/ Help and prayers for princess Janique/Facebook]

Verskeie geldinsamelingsinisiatiewe is gereël om geld vir dié peperduur behandeling van sowat R1 miljoen in te samel, maar eindelik was daar steeds nie genoeg geld nie.

“Die behandeling is ook nou van die baan omdat die gewas nie meer ʼn neuroblastoom is nie. Die behandeling fokus spesifiek op hierdie soort gewas.”

Verskeie behandelings in Suid-Afrika het oor die jare geen vrugte afgewerp nie en dokters het selfs drie jaar gelede gesê daar is niks wat hulle vir Janique kan doen nie.

Die dogtertjie het nietemin voortgegaan met chemo-inspuitings en chemo-pille om te keer dat die gewas versprei of verder groei. Sy het ook vir bestralingsessies gegaan, maar het talle newe-effekte ondervind.

ʼn Skandering einde verlede jaar het egter gewys dat die gewas groter geword het.

Mukheibir en haar vriend, Jacques Venter, het besluit om by ʼn dokter in die VSA aan te klop vir ʼn tweede opinie oor Janique se siekte.

“Die dokter het op ʼn biopsie aangedring en ons het dit twee maande gelede by die Universitas-hospitaal in Bloemfontein gedoen. Die biopsie het getoon dat die neuroblastoom na ʼn ganglioneuroom, ʼn nie-kwaadaardige gewas, verander het.

“Ek het nie gedink dit is moontlik nie.”

Dokters meen die gewas moet steeds verwyder word, maar só operasie kan lewensbedreigend wees aangesien die gewas om klein Janique se hoofslagaar in die nek gevorm het.

Janique en haar pa, Jacques [Foto: Hulp en Gebede vir prinses Janique/ Help and prayers for princess Janique/Facebook]

Die kleuter het verlede week nuwe medikasie (ʼn kursus van ses maande) begin gebruik wat moontlik die gewas kan laat krimp. Volgens Mukheibir ervaar Janique minder newe-effekte met die nuwe medikasie.

“Dié spesiale pilletjie het al gewys dat dit moontlik kan werk. Internasionaal is dit al gebruik om kanker rondom die hartvate van ʼn kind vir meer as twee jaar in bedwang te hou.”

Dit sal egter die eerste prys wees as die gewas tot so klein moontlik kan krimp sodat dit dan uiteindelik verwyder kan word, meen Mukheibir.

Janique speel, sing en dans verder soos enige ander kleuter.

“Sy is ʼn baie slim, spontane dogtertjie.

“Ons bly hoop dat die gewas heeltemal verdwyn, maar ons moet ook realisties wees. Ons sal egter nie ophou hoop nie.”

Die ouerpaar maak ook steeds staat op finansiële bydraes vir Janique.

’n Bloemfonteinse egpaar, Dewald en Yolandi Fourie, het Vrydag meer as 100 km in die stad gehardloop ten bate van die kleuter.

“Ons is so dankbaar vir dié wildvreemdelinge wat ons wil help. Dit laat ʼn mens weer eens besef dat daar goedhartige mense in die wêreld is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maria ·

Ek dra hierdie pragtige ou dogtertjie op aan ons Lewende Here Jesus! Ek bid vir volkome genesing. Dankie vir omgee mense wat vir haar die pad makliker wil maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.