Nuwe kaartlose betalings vir Sassa-toelae ingestel

Mense staan in ʼn ry vir hul Sassa-toelaag in Gugulethu, Kaapstad (Foto: Mary-Anne Gontsana via GroundUp)

Deur Liezl Human, GroundUp

Postbank het skielik ʼn nuwe kaartlose betaalstelsel ingestel ná grootskaalse paniek oor miljoene Sassa/Postbank- goue kaarte wat oor die volgende paar maande verval.

Sharna Fernandez, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in die Wes-Kaap, het egter kommer uitgespreek oor moontlike “flaters” deur Postbank met die nuwe stelsel.

Postbank het Maandag in ʼn verklaring gesê dat houers van goue kaarte van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) nou hul toelaes van handelaars soos Shoprite, Usave, Pick n Pay en Boxer sal kan ontvang. Dit betekend dat hulle nie meer na Poskantoortakke hoef te gaan om hul nuwe kaarte te ontvang indien hulle kaarte verval nie.

Sommige Poskantoortakke, onder druk van die lang rye van begunstigdes wat hul kaarte wou hernu, moes mense wegstuur, onder andere omdat hulle nie genoeg voorraad gehad het van die nuwe kaarte nie, het GroundUp vroeër vandeesweek berig.

Die eerste groep van 175 000 kaarte het aan die einde van Maart verval. In April sal nagenoeg 860 000 kaarte verval, met ʼn verdere 2,8 miljoen in Mei en 1,8 miljoen in Junie, aldus Postbank.

Postbank het in sy verklaring gesê die nuwe metode “sal die rye vir nuwe kaarte by Poskantoortakke verminder, omdat dit nie meer nodig is om kaarte af te haal om betaling te ontvang nie”.

Paseka Letsatsi, woordvoerder vir Sassa, het gesê hulle verwag nie enige uitdagings met die nuwe kaartlose betaalstelsel nie.

Volgens hom sal die nuwe metode begunstigdes help wat nie in staat was om hul kaarte by Poskantoortakke te vervang nie. “Hulle kan nou slegs na deelnemende handelaars gaan met hul ID-dokument, die pinkode vir hul Sassa- goue kaart en selfoonnommers om die geld te onttrek,” het Letsatsi gesê.

Fernandez sê egter die nuwe kaartlose betalingstelsel is nog nie getoets nie en dit kan moontlik “nog ʼn flop wees deur Postbank”.

Sy sê as ʼn kommunikasiestrategie nie in plek gestel word om ouer mense of mense wat in landelike gebiede woon te bereik nie, sal die nuwe betalingstelsel ʼn vrugtelose oefening wees, omdat rye buite Poskantore sal bly voortduur.

GroundUp het vroeër vanjaar berig dat Postbank verskeie “haakplekke” beleef het en miljoen begunstigdes kon nie toegang kry tot hul toelaes nie.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

En nou gaan ons seker nog meer korupsie en bedrog sien as ooit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.