Nuwe plan om agterstand met rybewyse te pak

(Foto: RTMC)

Die Gautengse departement vir paaie en vervoer het ʼn nuwe veldtog bekend gestel om die agterstand in rybewyshernuwings in die provinsie te probeer uitwis.

Die Request a Slot-veldtog sal motoriste in staat stel om ʼn besprekingsgleuf te versoek by die toetssentrum van hul keuse.

Motoriste se enigste uitweg is tans om aanlyn op die Natis-stelsel ʼn afspraak te maak voordat daar na ʼn lisensiesentrum gegaan kan word. Daar word egter net op sekere tye tydgleuwe by die verskillende lisensiesentrums beskikbaar gestel en dit word blitsvinnig opgeraap.

Jacob Mamabolo, Gautengse LUR vir paaie en vervoer, het gesê motoriste kan egter nou kies waarheen hulle wil gaan om hul rybewys te hernu en daar sal dan binne 30 dae ʼn tydgleuf aan aansoekers toegeken word. Daar sal voorkeur gegee word aan diegene wie se rybewyse voor of tydens die inperking verval het.

Daar is nou nog maniere om ʼn tydgleuf vir ʼn rybewyshernuwing te versoek. Motoriste kan ʼn e-pos stuur na [email protected] of [email protected]. Motoriste kan steeds ook op https://online.natis.gov.za ʼn afspraak maak. Volgens Mamabolo sal motoriste ook van Maandag af ʼn app kan aflaai om ʼn tydgleuf te versoek.

Dit volg nadat die minister van vervoer, Fikile Mbalula, die spertyd vir die geldigheid van bestuurslisensies wat tussen 26 Maart verlede jaar en 31 Augustus vanjaar verval het, weer verleng het. Dié rybewyse bly nou geldig tot 31 Maart aanstaande jaar en geld vir alle leerlinglisensies, rybewyse, tydelike rybewyse en professionele bestuurspermitte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pieter ·

Net jammer hulle het nie n plan om die agerstand van vuurwapen lisensie aansoeke aan te spreek nie.

SjN ·

Kry die kaders nie skaam nie, in die verlede het mens nooit so gesukkel nie.

melaney ·

Wat van bejaarde mense? Baie van hulle besit nie skootrekenaars. Hoe maak hulle?

Pieter ·

Melaney, enigiemand bo 60 kan op ‘n Woensdag sonder ‘n afspraak by enige lisensiekantoor net instap en aansoek doen vir sy /haar hernieuwing

Jana ·

Hoekom moet ons lisensies in elk geval hernu word? In die verlede het jy mos jou lisensie gekry en dit was nie nodig om dit te hernu nie.

absoluut ·

Geldmaak storie Jana, dis al, so ook met die vuurwapenlisensies en so aan

Vernon ·

Daar is eenvoudig te min sentrums …..Pta en omstreke is daar 3 plekke as ek reg is…met miljoene inwoners. Laat dit lewenslank geldig wees,weer n groot geldmaak korrupte spul!!

Eiervrug ·

Nie noodwendig te min sentrums, maar eerder te veel useless employees wat net elke 3 de dag 4 kliente help (en dan nog kyk hoe stadig hulle kan werk)…..

Pietertjie ·

Dis nou al die hoeveelste nuwe plan! Ek wonder wat die volgende nuwe plan gaan wees, of wanneer die nuwe plan gaan wees dat hulle nie meer nuwe planne het nie…

Wielspore ·

Thumbs up vir Nelspruit lisensie kantore, my seun was gister tussen 08h00 en 10h00 daar om sy lisensie te hernu.

Vettiemaragartos ·

Jacob Mamabolo het jy al probeer om ‘n afspraak op jou departement se stelsel te maak? Haas onmoontlik!! Aan die ander kant hoef jy seker nie dit te doen ……. word seker rondkarwei!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.