Nuwe plan vir geplunderde verpleeghuise gesoek

Die huise staan al vir jare lank leeg. (Foto: Verskaf)

Byna ses jaar nadat splinternuwe behuisingseenhede in Williston in die Noord-Kaap verlate en aan die genade van plunderaars oorgelaat is, vra die DA dat die oorblywende strukture in behuising vir inwoners van die gebied omskep word.

Johan van der Colff, burgemeester van die Karoo Hoogland-munisipaliteit, sê die provinsiale regering kan die eenhede aan inwoners oorhandig wat gewillig is om dit weer op te knap en in ʼn tuiste te omskep.

Die behuisingseenhede sou aanvanklik gebruik word om verpleegpersoneel te huisves wat by ʼn nuwe hospitaal in Amandelboom sou werk. Die munisipaliteit het selfs ʼn nuwe reservoir gebou om water na die hospitaal en wooneenhede te lei en ʼn direkte kraglyn is opgerig.

“Nadat die eenhede gebou is, het die planne om die hospitaal te bou deur die mat geval,” sê Van der Colff.

“Die luukse eenhede, wat ten volle gemeubileer was met TV’s, rusbanke en selfs eetgerei, is bloot toegesluit en net daar gelos.”

Jare lank was die eenhede in onbruik, maar ten minste ongeskonde. Mettertyd is die inhoud van die eenhede egter gestroop en met die aanvang van die Covid-19-pandemie het dit veral onder vandale deurgeloop.

“Die huise is stadigaan gestroop en slegs ʼn dop het agtergebly.”

(Foto: Verskaf)

Volgens die burgemeester is daar oor die jare geen poging deur die departement van openbare werke, nóg die departement van gesondheid, aangewend om die plundering van die eenhede te stuit nie. Nie eens ʼn misdaadklag is aanhangig gemaak nie.

“Hoewel die huise op munisipale grond gebou is, kon daar nog niks gedoen word om die eenhede in gebruik te neem nie,” sê hy.

“Die provinsiale regering is nie bekommerd dat hy miljoene rande gemors het op ongebruikte behuising nie, en ook nie oor wat van die huise geword het nie. Hulle het geen aanspreeklikheid getoon nie.”

Hoewel die deure, vensters en dakke van die eenhede gebuit is, is die strukture stewig gebou met ʼn soliede fondament wat beteken dat al die ander elemente maklik teen betreklik lae koste vervang kan word.

Van der Colff beplan om by die volgende raadsvergadering die DA se voorstel om die strukture aan gewillige inwoners te oorhandig, ter tafel te lê.

“Terwyl die provinsiale regering geen ag slaan op belastingbetalers se geld nie, is dit iets wat die DA wel doen,” sê hy.

“Daar is geen plek vir vermorsing van finansiële of ander hulpbronne in hierdie moeilike tye nie. As hierdie strukture aan iemand die geleentheid kan bied vir ʼn beter toekoms, dan moet dit eerder gedoen word as wat dit heeltemal tot niet gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Amelia ·

En aan wie sal dit oorhandig word dink almal ken ant Hoe koop jy tvs meubels as hosp nog nie eers bestaan nie Kan geld nie terug geeis word nie Is daar iemand wat kan help agri form hul spend of daar geen end is nie laat persoon wat als goed gfekeur het terug betaal magies nee

Marius ·

Voed die kaders op en vertel hulle waar kom die geld vandaan.
Leer hulle dat dit ook hulle geld is wat hulle so afbreek.

Kokerboom ·

Die ou probleem van gebrek aan aanvaarding van verantwoordelikheid en aanspreeklikheid..oral!EN die belastingbetalermelkkoei aanvaar dit gedwee!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.