Nuwe reëls kom om ʼn OB, ander hoofde te verwyder

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die parlementêre reëlskomitee het ooreengekom om reëls op te stel vir die verwydering van ampsdraers en kommissarisse van hoofstuk 9-instellings.

Die speaker, Thandi Modise, is die voorsitter van die komitee wat nou aan die Nasionale Vergadering oor die reëls verslag sal doen vir ʼn besluit.

Een van die eerste van hierdie hooggeplaastes wat onder druk kan kom om haar pos te ontruim is die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane.

Daar is tans geen voorgeskrewe metode oor hoe om die hoof van ʼn artikel 9-instelling, dit sluit die Menseregtekommissie, die Kommissie vir Geslagsgelykheid, die Onafhanklike Verkiesingskommissie en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe en ook die ouditeur-generaal in, te verwyder nie.

Die Grondwet maak tans net voorsiening om hoofde te verwyder op grond van wangedrag of onbevoegdheid; ’n bevinding in die verband deur ’n komitee van die Nasionale Vergadering; die aanvaarding van ʼn resolusie deur die Nasionale Vergadering vir die persoon se verwydering uit sy of haar amp.

Die nuwe konsepreëls word uitgebrei oor wat die gronde vir wangedrag of onbevoegdheid sou wees. Wangedrag beteken die opsetlike of growwe nalatige versuim om te voldoen aan die standaard van gedrag wat van ’n openbare amptenaar verwag word, terwyl onbevoegdheid onder meer insluit ʼn gebrek aan kennis om uitvoering te gee en die onvermoë om te presteer of ʼn tekort aan die vaardighede wat nodig is om sy of haar pligte doeltreffend uit te voer.

Die nuwe konsepreëls maak ook voorsiening vir enige lid van die Nasionale Vergadering om, met ’n substantiewe mosie, verrigtinge vir ’n artikel 194-ondersoek in te stel. Die speaker van die Nasionale Vergadering moet die mosie en alle stawende dokumente vir voorlopige beoordeling na ’n onafhanklike paneel verwys. Die speaker moet ook sonder versuim die Nasionale Vergadering en die president in kennis stel van hierdie verwysing.

Die paneel sal uit drie lede bestaan en moet gesamentlik oor die nodige regs- en ander bevoegdhede en ervaring beskik om die assessering te doen. ’n Regter kan op die paneel aangestel word, maar die speaker moet so ’n aanstelling in oorleg met die hoofregter doen. Politieke partye in die Nasionale Vergadering moet ook ʼn redelike geleentheid kry om persone te nomineer om op die paneel te dien.

Die paneel moet binne 30 dae ’n voorlopige evaluering doen en finaliseer oor die mosie wat ’n artikel 194-ondersoek voorstel en ’n aanbeveling aan die speaker doen.

Die speaker moet dan die aanbeveling van die paneel na die Nasionale Vergadering verwys vir ʼn besluit. Indien die Nasionale Vergadering besluit die ondersoek moet voortgaan, moet die saak vir formele ondersoek na ’n spesiale artikel 194-komitee verwys word.

Die komitee, met die bevoegdhede wat op ander parlementêre komitees van toepassing is, moet die ondersoek uitvoer, die geloofwaardigheid van die aanklagte bepaal en aan die Nasionale Vergadering verslag doen.

Die verslag van die komitee, wat bevindinge en aanbevelings en redes daarvoor moet bevat, moet met inagneming van die program van die Nasionale Vergadering met die nodige dringendheid bespreek en oorweeg word.

Indien die verslag aanbeveel dat ʼn openbare ampsdraer uit sy of haar amp onthef word, moet die Nasionale Vergadering daaroor stem en indien ʼn meerderheid van die lede die aanbeveling steun, moet die besluit aan die president oorgedra word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Riaan ·

Sy is in elk geval nie n openbare beskermer nie.
Sy is net nog n ANC kader.

Suzette Geringer ·

Hulle sal moet onthou om ‘n komitee aan te stel om die komitee wat aangestel is te monitor….

Reinhardt ·

Ek dink Casper de Vries is die regte kandidaat vir hierdie pos.

Johanna Botha ·

ASB want dis net die een na die ander verleentheid met die huidige ene

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.