Nuwe reëls, werklikheidsprogram nou deel van Mej. SA-soektog

Ndavi Nokeri, Mej. SA 2022 en Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. SA-organisasie. (Foto: Instagram/Stephanie Weil/Willem Botha)

Ouerskap en ouderdom staan amptelik nie meer in die pad van vroue wat graag as die volgende Mej. Suid-Afrika gekroon wil word nie.

Die Mej. SA-organisasie het die afgelope naweek verskeie aanpassings en toevoegings amptelik bevestig, waaronder dat ma’s en getroude vroue ook nou aan dié kompetisie sal kan deelneem. Dié nuwe reëls laat ook vroue wat 30 word in hul kroningsjaar toe om deel te neem en daar is ook geen lengte- of gewigspesifikasies of vereistes nie.

Maroela Media het vroeër berig dat dié besluit glo gevolg het op die Mej. Heelal-kompetisie se aankondiging in 2022 dat hulle “ter wille van inklusiwiteit” vir die eerste keer in meer as 70 jaar ook moeders en getroude vroue gaan toelaat om aan hul kompetisie deel te neem.

Die vermoede was dat dié onlangse verandering gemaak is om in ooreenstemming met die Mej. Heelal-kompetisie te wees, aangesien Mej. SA-wenners die afgelope vyf jaar uiters goed in dié kompetisie vaar.

ʼn Nuwe, volwaardige werklikheidsreeks, genaamd Crown Chasers, sorg ook dat aanhangers vanjaar  ʼn kykie agter die Mej. SA-kompetisie se skerms gaan kry.

“Hierdie jaar het ons meer grense as ooit tevore verskuif en ons is verheug om alle vroue te verwelkom wat gereed is om ons leierskapplatform te betree en die volgende ambassadeur vir Suid-Afrika te wees. Ons, as vroue, is soveel dinge: ons kan besigheidseienaars, leiers, innoveerders, beïnvloeders, ma’s, dogters, filantrope, rolmodelle, ambassadeurs én skoonheidskoninginne op dieselfde tyd wees,” het Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. SA-organisasie oor dié aanpassings gesê.

Stephanie Weil saam met Mej. Heelal, Zozibini Tunzi (Foto: verskaf)

As deel van die werklikheidsreeks sal deelnemers almal saam in die Mej. SA-hoofkwartiere woon, vanwaar hulle uitdagings wat verband hou met die kompetisie se vier pilare, naamlik plig, kampioenskap, bemagtiging en skoonheid sal moet aanpak.

Finaliste se entrepreneurs- en sakevaardighede sal verder op die proef gestel word en hulle sal gevra word om innoverende maniere te vind om toerisme aan te moedig, om ondersteuning vir besighede in vroulike besit te toon, of om aspekte van hul kultuur of erfenis ten toon te stel.

‘n Uitdagingswenner sal elke week deur ‘n beoordelaarspaneel gekies word.

Vroue wat wil deelneem sal moet egter moet spring. Inskrywings het verlede Vrydag om 11:00 geopen en sluit reeds op Vrydag 5 Mei om 11:30.

Inskrywings sou reeds op 13 Maart geopen het, maar volgens Weil het haar span egter meer tyd nodig gehad om hulle planne agtermekaar te kry voordat die inskrywings amptelik kon open.

“Ons streef voortdurend daarna om die kompetisie relevant en vars te hou, en ons glo ons aanhangers gaan verheug en opgewonde wees oor waarmee ons vanjaar vorendag gekom het,” het Weil voorheen oor dié vertragings genoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Phillip ·

Dan moet hulle Mej. na Mev. verander n getroude vrou kan nie meer dan Mej wees nie of help my reg

TruthDealer ·

Kinders gaan maar vir n jaar aan die kortste end trek as mamma Mej. SA word. Plus sommige ander probleme, vir n huwelik, sou ek my voorstel. Ai wat hulle nie nog sal uitdink om die tradisionele familie te vernietig nie. Die reëls was daar vir n rede. Wanneer ek die woord “inklusiwiteit” hoor, dan weet ek sommer al dit beteken gewoonlik niks goed vir die tradisionele, regdenkende sektor vd samelewing nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Manlief/vroulief en die kinders sal seker saam reis indien sy/hy mej Wêreld word.

Samuel ·

Ek sou graag wou weet wat hierdie organiseerders onder ‘inklusiwiteit’ verstaan?

JohanR ·

Toe ek die hoof berig lees toe dog ek eers dat iemand soos Naledi Pandor of NDZ sou nou kon inskryf. Maar dit afsny is darem 29 en 364 dae. Hoop die selluliet en tatoos sal mooi kan weg gesteek word?

AH ·

“Looks” is lankal nie meer deel van die kriteria nie! Volgende sal “Transgender” mense ook deelneem. Absoluut niks teen hulle nie, maar waar gaan die streep dan uiteindelik getrek word?

Johann ·

HUH? Mej…..maar almal kan maar deelneem? Neem aan die alfabet korrekte groepering gaan ook as enige alfabet letter(s) deelneem? Klug.

Marina ·

Dus kan oorgewig vrouens, mamma-van-vele en mans wat as vrouens identifiseer nou ook deelneem? Nee wat, die kompetiese raak nou al hoe meer belaglik! Skryf sommer n paar “drag queens” ook in. The more, the merrier!

Wit Leeu ·

Wie gee nou eintlik nog om………………………………

Vonny ·

Mej SA word nou mnr/mej/ mev.
Dink julle is Absurd!
Skrap dan mev SA asook mnr SA.

Dank Abba Vader ons kyk al vir 5jaar nie
Die sirkus!!!!

Uiters belaglik

Andrew ·

Skoonheids kompetiesies, soos Idols, is n uitgediende konsep en kan dit ook maar tot n einde kom.

Lillian ·

Hierdie kompetisie is jare al nie meer iets om na uit te sien nie. Julle kan dit sommer maar afskaf in totaliteit.

trotsNAMSA ·

Regtig ? Bestaan die kompetisies nogsteeds in 2023 ? Ek weet nie eers wie is SA se Mejuffrou nie. Word vrouens nogsteeds beoordeel ? Belanglik !!

Ronél ·

“Dan dra die wenner die KROON van BELAGLIKHEID!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Pietie ·

Dan moet dit maar seker mêêêê…. Suid Afrika word. What a joke

Mariana ·

Weet nie hoekom vroue nog hulself aan sulke belaglikhede onderwerp nie. Die tipe kompetisies het lankal hul kleur verloor.

Sêmanet ·

Hoekom stop hulle nie net heeltemal met hierdie afgesaagde pageant nie? Dis al holrug gery. Of kry hulle nie meer die regte kriteria by die dames wat inskryf nie?? Dis net geldmors, geld wat aan die hongeres kon gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.