Nuwe stemme, programskuiwe vir RSG

Eloise Cupido (Foto: Verskaf)

Wanneer RSG se luisteraars op Saterdag 1 April die draadloos aanskakel, sal sommige van hulle gunstelingprogramme weer in hulle oorspronklike tydgleuwe op die lug wees.

Dié skommelinge volg ʼn jaar nadat RSG se splinternuwe baadjie vir sy programinhoud groot polemiek ontlok het.

Hoewel talle luisteraars en openbare figure nie met RSG se aanpassings saamgestem het nie, het die radiostasie dit as ʼn geleentheid beskou om op gelyke voet met ander soortgelyke radiohandelsmerke mee te ding en ʼn volhoubare toekoms vir die radiostasie bou.

“Ons is opgewonde om nuwe stemme soos dié van Reggie Philander en Eloise Cupido te verwelkom en terselfdertyd op die sukses van Op en wakker voort te bou,” sê Louise Jooste, RSG se sakebestuurder.

Volgens Louise is Op en wakker ʼn gewilde ontbytprogram met indrukwekkende podsendingsyfers. Sy voeg by dat hierdie nuwe programskedule ʼn weerspieëling is van die musiek, programme en inhoud wat luisteraars in die verskillende tydgleuwe verkies.

RSG het ook aangekondig dat ʼn splinternuwe oggendprogram, Intussen met Eloïse, met Eloise Cupido in die aanbiedersrol, van Maandag 8 Mei af op die lug is. Die nuusleser Mari Molefe van Heerden sluit by Eloise aan en Veronique van Heyningen behartig die regie.

Leon van Nierop se kitsverhaal, Hartebreker, wat die afgelope agt jaar in Alhoebekker uitgesaai is, kom op 31 Maart tot ʼn einde. Waar RSG se vervolgverhale gewoonlik vir net sowat drie maande lank op die lug is, het hierdie gewilde verhaal luisteraars sedert 2015 vermaak.

Reis sonder grense met Johan Rademan skuif terug na 10:00 op ʼn Saterdagoggend, gevolg deur die gewilde Saterdagresep net ná die nuus om 11:00. Carla Mackenzie bied tussen 13:00 en 14:00 die nuwe program, Top Treffers, aan. Dié musiekprogram vervang die Top20 en dit bestaan uit die week se grootste treffers van regoor die wêreld. Willem Viljoen se Vastrap is weer tussen 14:00 en 15:00 op lug, waarna RSG Sport om 15:00 uitgesaai gaan word. Eloise se Goue oues wat op Sondagaande uitgesaai is, sal vanaf 1 April op Saterdagaande om 18:10 op die lug wees.

Reggie Philander (Foto: Verskaf)

Die platejoggie Reggie Philander skuif eersdaags op Vrydagaande van 21:20 tot 23:00 agter die mikrofoon in met Skud dit, en Musiek sonder Grense word voortaan op Woensdagaande om 21:20 uitgesaai, gevolg deur Jazz op RSG om 22:10. Laataandkuier (op Maandae) en Geestesgesondheid (op Dinsdae) skuif na die 22:10-tydgleuf. Tjil word dan van Maandag tot Sondag elke aand om 23:10 uitgesaai.

Sondae se uitsendings begin om 05:00 met Tharien Oosthuizen se aanbieding van die nuwe musiekprogram, InstrumenTAAL, en daarna volg Oggendstemming om 06:00. Binnekamer volg net na die 07:00-nuus waarna Loof die Here om 08:00 begin.

Die res van die programskedule bly onveranderd, terwyl die eerste Radioteater-seisoen van 2023 ook in April afskop met al die wendramas van RSG se radiodrama-skryfkompetisie van 2022.

Besoek RSG se webwerf vir die volledige programskedule en om meer oor programme te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.