Nuwe ‘struggle’ vir ANC voor verkiesing

Oudpres. Jacob Zuma kan sake by die stembus vir die ANC deurmekaar krap. (Foto: Ihsaan Haffejee/AFP)

ʼn Reusestryd sedert die “struggle” teen apartheid staar die ANC wat oudpres. Nelson Mandela eens gelei het in die gesig: die stryd om ʼn meerderheid te behou in wat as ʼn grensverskuiwende verkiesing bestempel kan word.

Platsak en onder skoot oor korrupsie, ʼn sukkelende ekonomie, die kragkrisis en misdaadvlakke wat hardnekkig hoog bly, maar nietemin wys meningspeilings dat die ANC na alle verwagting vanjaar steeds by die stembus gaan koning kraai.

Binnegevegte en grootskaalse ontnugtering met die ANC dreig egter om al hoe meer stemme weg te kalwe en die regerende party te dwing om moontlik ʼn ongerieflike magsdelingsoorenkoms aan te gaan.

“Die ANC is tans meer verdeeld as ooit en gaan voor die belangrikste verkiesing sedert 1994 te staan kom,” sê William Gumede, professor in politiek by Wits.

Oudpres. Jacob Zuma was die kersie op die koek van ʼn miserabele 2023 vir die ANC, met ʼn oorlogsverklaring teen die kamerade wat hy ʼn dekade lank gelei het.

Zuma se spies

Die 81-jarige Zuma – self bevlek deur skandaal maar steeds ʼn man met aansienlike invloed – het onderneem om vir die radikale nuwe party, Umkhonto We Sizwe (MK), te stem. MK, wat beteken spies van die nasie, is genoem na die ANC se voormalige militêre vleuel.

Hoewel hy voet by stuk hou hy bly ʼn lid van die ANC, het Zuma die regering van sy opvolger Cyril Ramaphosa gekasty as “verraaiers en apartheidmeelopers”.

Ramaphosa was eens Zuma se adjunk, maar hulle het bittere vyande geword ná Zuma in 2018 weens aanklagte van korrupsie gedwing is om opsy te staan.

Nog ʼn topveteraan, Mavuso Msimang, het in Desember ook – vlugtig – die ANC die rug toegekeer en gekla oor “endemiese korrupsie” voor hy oortuig is om hom weer by die ANC te skaar.

“Verraad, oneerlikheid en valsheid in die ANC is die norm,” sê politieke ontleder Sandile Swana.

Kritiek van buite die ANC neem ook toe.

(Foto: GCIS)

Aartsbiskop Thabo Makgoba, Anglikaanse kerkleier, het in ʼn kwalik bedekte aanval gesê Suid-Afrikaners is sat vir “leuens, korrupsie en onbevoegdheid” .

“Namate hulle begin besef dat hulle ná die volgende verkiesing dalk nie meer in beheer gaan wees nie, word die oëverblindery, swendelary en bedrog elke dag net meer blatant soos hulle net nóg meer honger is vir die onregmatig bekomde opbrengs van mag.”

Mamphela Ramphele, ʼn voormalige besturende direkteur van die Wêreldbank wat eens haar eie party gestig het om die ANC die stryd aan te sê, sê “die post-apartheidregering het die land na die afgrond van ongelykheid, armoede en hernude ongeregtigheid gelei”.

Steun vir die ANC het gaandeweg begin daal nadat die party in die 2004-verkiesing 69% van stemme op hom kon verenig. In 2019 het dié syfer op 57% gestaan.

In 2024 – 30 jaar ná die ANC aan bewind gekom het – kan die ANC net dalk vir die eerste keer tot onder 50% gly. Die verkiesing sal na verwagting naastenby in Mei gehou word.

ʼn Peiling wat in Oktober gedoen is, het steun vir die ANC op 45% geplaas, ʼn daling van die 52% waarop dit in Maart gestaan het.

Rebelle kan ANC knou

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: ANC/X)

Sommige ontleders meen Zuma se jongste politieke truuk kan die syfer selfs verder afdruk.

Zuma se magsbasis is in sy tuisprovinsie van KwaZulu-Natal – ʼn provinsie met die grootste ANC-lidmaatskap.

Susan Booysen, ʼn politieke ontleder vir die Mapungubwe Institute for Strategic Reflection, sê Zuma se identiteit en sy rebelsheid kan aanklank by sommige kiesers vind.

Gumede meen ʼn stempersentasie van tussen 46 en 49 kan die ANC dwing om ʼn koalisie met kleiner, meer radikale partye soos die EFF aan te gaan. Die rooi barette het onder meer ʼn aggressiewe veldtog van stapel gestuur om grondhervorming te dryf.

Hy sê ook as die ANC se steun tot onder 45% daal, kan dit ʼn bedreiging vir Ramaphosa se leierskap inhou.

“Vir Zuma sal dit wraak wees,” sê Gumede.

Ramaphosa het ondersteuners vandeesweek verskeie kere toegespreek en vol vertroue verklaar diegene wat dink die ANC gaan net verdwyn of ontsetel word, “droom net”.

“Dit gaan nie gebeur nie. Ons sien al hierdie partye wat gestig is en ons is voorbereid daarop; ons is nie bang vir hulle nie.”

Afrika se mees gevorderde ekonomie kan egter ʼn slagoffer van die binnegevegte word voor die verkiesingsveldtog nog behoorlik begin het.

Raymond Parsons, verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê die politieke toekoms is “plofbaar” met Zuma se nuwe party en die EFF wat stemme werf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Suzette ·

Ag asseblief – klomp narre.
Z is nou verbasend “gesond”……

domheks ·

@Suzette – jy is 100% reg. Maar kom die hofsake is hy dodelik siek. Maar nou kan hy nog dans en sing!

Tokkel ·

Dan wen Zumpie in KZN…..dan gee hy weer die stemme vir die ANC na die verkiesing of vir die EFF.

Blikkies ·

Wie ookal nog vir die ANC/EFF/MK gaan stem, Hou daarvan om te sukkel, Wil honger ly, Wil werkloos bly, Wil ongeskoold bly. Hulle aanvaar dit en Gewillig om in riool strate langs ‘n ashoop te bly terwyl hulle kan sien net die Elite word vetrond van die geld en hulle kripeer, dan aanvaar hulle dit ook maar so.

SwartBees ·

Wat ek graag wil weet is watse hou vas het die perd op die ander?

Andries ·

Daar is 3 miljoen staatsamptenare. Dan kry 47% van bevolking een of ander toelaag. DIT maak dit baie moeilik om onder 50% ANC steun te kom – min van hierdie stemme sal teen di ANC gaan omdat hulle (ANC) “vir ons sorg…

Fluisterwind ·

Dan moet ons almal ook net duidelik kennis neem dat die cANCer se nuutste truuk teenoor die kieser, die afpersing en guiselaars situasie skep deur almal te onthou dat sou hulle die verkiesing verloor, die “GRANTS”…. poef, weg is!

annie ·

Die spul ANC-kaders het sulke houvas op mekaar dat niemand vervolg sal word nie wat neerkom op ‘n tipe Mafioso. Hul ondersteuning vir Hamas verbaas dus nie. Cyril se party moet moontlik geldelike hulp vir hul ondersteuning van die terroriste groep ontvang. Moslem kiesers sal nou seker ook vir die ANC stem en hul stemgetalle beïnvloed. Cyril hoop seker die Kaap sal nou in sy party se skoot val. Wat Zuma se standpunt oor Hamas is, is onduidelik want hy het destyds saam met die Guptas uitgehang wat nie Moslem-aanhangers was nie.

Mieke ·

Ek hou nog my asem.op……Die ANC gaan SORG dat hulle die verkiesing wen.(natuurlik dmv oneerlikheid) Maak nie saak wat gebeur nie. Veral met die IEC se fondse wat nou deur die ANC gehalveer is. Easy peasy.

Lesly ·

Wanneer dit verkiesingstyd is, sal die menigte met ‘n bietjie hulp van KFC maar weer vir die diewe stem. Hartseer maar waar

Karoo ·

Toemaar…. hulle gaan die “korupsie en wanbestuur aflos stokkie” net vir die volgende “vrot” soan gee. Ons het ons kaans gehaat… en hey dit ook nie gemaak nie, nou gaan dit van vrot na vrotter en dan….. vrotste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.