Nuwe visepresident van US-konvokasie wil brûe bou

Dr. Rudi Buys is die nuwe vise-president van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

“Afrikaans is ʼn brugbouerstaal. ʼn Mens moet dit verstaan. Dit is outomaties ʼn inklusiewe taal omdat dit regoor rassegrense heen begin het, gegroei het en gevestig is en vandag nog steeds [gepraat word]. Daarom het Afrikaans ʼn verskriklike groot plek, nie net op Stellenbosch nie, maar ook by ander universiteite.”

Aan die woord is dr. Rudi Buys, pas verkose visepresident van die Universiteit Stellenbosch (US) se konvokasie. Buys is verlede week tot die dagbestuur verkies. Die ink op die spreekwoordelike stembrief was kwalik droog, of daar was ʼn murmurering dat hy ʼn anti-Afrikaanse agenda het.

Maroela Media het hom prontuit gevra. Hoe sien hy taal? Hoe sien hy Afrikaans? Wat is sy siening oor transformasie?

Hy gaan eers die kat uit die boom kyk, sê Buys, ook uitvoerende dekaan (akademiese hoof) by die Cornerstone Instituut. “My rol in die konvokasie is om te help, so eenvoudig soos dit. Om ondersteuning aan die dagbestuur en die president te gee en my menings en kapasiteit in te bring waar ek kan help.

“Vir my is die konvokasie nie ʼn forum om my eie agenda te dryf nie. Ons werk met die agenda wat die konvokasie saam bepaal en waaroor hulle praat is die dinge waaraan ons saam sal werk.”

Hierna sien hy veral uit: om mense te help om saam te praat en saam te dink en saam by oplossings uit te kom.

“Daar is altyd uitdagings met verskillende belangegroepe, om mense om ʼn tafel te kry is die vaardigheid wat ek na die dagbestuur kan bring.”

Hy het die benoeming vir die rol as visepresident aanvaar juis omdat hy werklik glo in die bydrae wat die konvokasie kan lewer.

“In Suid-Afrika is universiteite regtig onder druk weens ʼn groot reeks uitdagings. Taal is een van hulle, natuurlik, maar daar is ʼn gebrek aan navorsingsfondse en toenemende druk weens die getal studente en koste daaraan verbonde. Onrus op kampusse is ook ʼn groot issue. Al daardie goed speel saam en ʼn konvokasie dra ongelooflike kapasiteit om ʼn universiteit te ondersteun.”

Afrikaans is in sy bloed

Buys is ʼn geëmeriteerde NG Kerk-dominee,  ʼn “plattelander” van Namibië.

“In Namibië is Afrikaans die lingua franca. Mense oor kultuur- en rasgroepe heen praat Afrikaans met mekaar ongeag hul huistaal. Ek kom uit daai wêreld.”

Buys was voorheen ʼn woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, en uitvoerende hoof van die iGubu Leadership Agency. Hy is ook ʼn voormalige dekaan van studentesake by die Universiteit van die Vrystaat.

Sy dominee-pa en onderwyseres-ma was sendelinge, sy oupagrootjie ʼn voormalige onderredakteur van Ons Klyntji. Buys het die tesisse vir al sy grade tot op meestersvlak in Afrikaans gedoen en sy postdoktorale boek ook in Afrikaans geskryf.

“Ek is trots op my Afrikaanse wortels. Regtig, ek is.”

Afrikaans het ʼn geweldige groot plek, nie net by die US nie, maar ook by ander universiteite, veral omdat dit in soveel uiteenlopende gemeenskappe gepraat word en ʼn manier is om toegang tot die universiteit te kry, sê Buys.

“Dit is verskriklik belangrik by die Universiteit Stellenbosch, soos by ander ou Afrikaanse kampusse, om regtig moeite te doen om die regte oplossing te kry vir hoe Afrikaans kan groei. Ek ondersteun dit geweldig sterk.”

Dit is maklik om ʼn instelling se beleid aanlyn af te laai en te lees, maar dit gee nie vir jou die hart daarvan nie, sê hy. Daarom gaan hy tyd neem om te sien waar die gesprek staan en watter leiding hy van adv. Jan Heunis, president van die konvokasie, daaroor kry. “Oplossings kom net na vore indien mense saampraat.”

Brugbouers

Dit is dalk omdat hy ʼn nuweling in die konvokasie is en mense hom nog nie ken nie, dat hy met ʼn mate van agterdog bejeën word. Hiervoor het hy begrip, sê Buys, en hy sal die verhoudings mettertyd bou. Dit is hoe hy dit verkies: om verhoudings te bou, brûe. Nes die taal waaroor hy so geesdriftig raak.

Daar heers groot besorgdheid oor die situasie in die land, sê hy. “Dit voel of dinge uitmekaar val en baie kompromieë gemaak word oor kernwaardes wat vir ons belangrik is.”

As jy praat oor taal, praat jy ook oor onderliggende waardes, hoe ons dink oor die lewe, wat behoue moet bly.

“Afrikaans, hoor vir my, is ʼn brugbouerstaal. Hy dra in homself die waardes van inklusiwiteit en versoening oor grense heen. Afrikaans sny nie groepe uit nie.

“Dit is verskriklik opwindend dat Afrikaans nie vandag probeer om een weergawe van die taal voor te druk nie. Daar is verskillende groepe en stemme wat vir die unieke kante praat. Ek wonder baie hoe ʼn mens daai werklike ryk verskeidenheid, die ryk kante, van Afrikaans kan laat vergestalt in hoër onderwys.”

Buys verwys onder meer na die US Woordfees waar daar ruimte is vir alles van formele kuns tot Kaapse Klopse en die riel wat gedans word.

“Hoe kan ʼn mens só ʼn taal nou nie wil steun en vorentoe neem nie?”

Toe hy destyds sy eerste boek in Afrikaans geskryf het (Brugbouers, ‘Die Reitz-video en die pad na versoening’), was dit nie ʼn ligte besluit nie. “Ek het geweet dit is ʼn beginselbesluit om jou eerste boek in Afrikaans te skryf; dit was ʼn baie doelbewuste besluit.”

En dit is so dat Afrikaans histories beïnvloed word deur die geskiedenis van apartheid.

“Dit is ʼn meulsteen wat die taal en die verskillende taalgemeenskappe van Afrikaans moet afleef. Die meulsteen hang nie net oor wit Afrikaanse mense se nekke nie, dit hang om die nekke van Afrikaanse mense van swart gemeenskappe ook.

“Omdat die meulsteen om almal se nekke hang, beteken dit ook die oplossing is op die tafel waBeskou artikelnneer almal om die tafel sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Ja, dié oom was ook by die UV destyds tydens die Reitz-kabaal. En is daarna na Stellenbosch. ‘n Redelike klompie water is sedertdien onder deur die brug… Afrikaans daarmee saam. Dit is eintlik nogal bitter ironies dat dieselfde film nou ook by US speel. Ons glo elke woord wat ons hierbo lees… Elke een.

Republikein in die Wes Kaap ·

Soos ‘n Green Beret vernietig hierdie perd brûe sover hy gaan. Maar dis reg so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.