NVG het 14 dae om te sê oor vervolging na Lily-mynramp

‘n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

ActionSA het adv. Mlungisi Magwanyana, die adjunkdirekteur van Openbare Vervolging in Mpumalanga, twee weke gegee om te besluit of die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) diegene wat aandadig is aan die Lily-mynramp, gaan vervolg.

Maroela Media het vroeër berig ʼn skeepshouer met die drie werkers het op 5 Februarie 2016 tydens ʼn ineenstorting by die ingang na die myn onder reuseklippe en grond beland. Die drie mynwerkers, Pretty Nkambule, Solomon Nyirenda en Yvonne Mnisi, wat ten tyde van die tragedie in die skeepshouer was, is sedertdien nog nie gevind nie.

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê die Mbombela-landdroshof het reeds in Oktober verlede jaar beslis dat die NVG strafregtelike vervolging teen individue, insluitend die departement van minerale bronne en energie, moet oorweeg.

“Tog het die NVG – hoewel hulle onderneem het om dit teen einde Januarie te doen – steeds nie hul besluit hieroor bekend gemaak nie.”

Mashaba sê sedert hy by die saak betrokke geraak het, het hy volmag van die families ontvang om, indien nodig, siviele en kriminele litigasie teen die partye wat aanspreeklik is, in te stel.

“Dit is dus noodsaaklik dat die NVG ʼn besluit neem oor die vervolging sodat ActionSA sy opsies, geregtelik of andersins, kan oorweeg.”

Hy sê ná sy eerste besoek in 2020 aan die Lily-myn waar die ramp plaasgevind het, waartydens hy die slagoffers se familie ontmoet het wat buite die myn gekamp het, het hy onderneem om geregtigheid aan die families te verseker.

“ActionSA se doelwit is om te verseker dat die mynskag heropen word om die houer waarin die drie slagoffers begrawe is, te herwin.

“Ons wil vergoeding vir die families van die geraakte mynwerkers verseker en seker maak dat diegene wat vir die tragedie aandadig bevind word, krimineel vervolg word.”

Hy sê hy weier om in ʼn samelewing te leef waar daar versuim word om tragedies soos die Lily-mynramp se slagoffers en veral hul families te ondersteun.

“Dit is doodeenvoudig as gevolg van talle krisisse in Suid-Afrika en weens die regerende party se mislukkings.

“Ons kan nie net ander pad kyk terwyl die families van die slagoffers pyn en lyding moet verduur nie. Geregtigheid vir die slagoffers en hul families moet geskied,” sê Mashaba

ActionSA sê hulle bly vasberade in hul verbintenis om die liggame van die drie mynwerkers te herwin en sal voortgaan om die families op enige moontlike manier by te staan.

“Ons kan nie toelaat dat mense vergeet wat op 5 Februarie 2016 by die Lily-myn gebeur het nie; ons moet seker maak dat geregtigheid vir die mynwerkers en hul gesinne geskied.”

Die Lily-myn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

domheks ·

Wonder of ActionSA in die sinkgat gaan afgaan om die beendere te gaan uit haal? Dit is maar dieselfde wat in Blyvooruitzicht jare terug gebeur het. Niemand kon voorsien die sinkgat gaan inval nie!

SjN ·

Reeds 8 jaar gelede ( ongeveer 3000 dae later) en nou nog 14 dae gee deur Nvg vir n antwoord!!

Casper ·

Was daar later enige pogings aangewend om die houer te herwin,het mynbou nie die tegnologie en toerusting nie of word daar met opset gesloer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.