NVG versterk kapasiteit om korrupsie-, staatskapingsake te vervolg

(Foto: Maroela Media/ Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sê hy is deegliks bewus van die verwoestende uitwerking wat staatskaping en ander vorme van korrupsie op Suid-Afrika se ekonomie, demokratiese instellings en mense het.

Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die NVG, sê die instelling sal dus geen moeite of koste ontsien nie om te verseker dat hy die beste vaardighede het om ingewikkelde sake van staatskaping en korrupsie te vervolg en te verseker dat geregtigheid seëvier.

“Die huidige leierskap van die NVG het die vervolging van hierdie misdade geprioritiseer.

“Deur lesse te leer uit onlangse terugslae en bevindinge van ons kapasiteitsverbeteringsinisiatief, word die NVG se vervolgingsvermoë met betrekking tot hierdie sake nou verder uitgebrei en versterk,” sê Mhaga.

Mhaga sê die NVG se navorsing wys dat die instelling uiters ervare en bekwame aanklaers in sy midde het wat die grootste getal van dié sake kan hanteer.

“Ten spyte van hierdie vermoëns is dit egter nodig om die vaardighede binne die NVG aan te vul, veral met die veranderende aard van misdaad, ook die groter digitale eienskappe daarvan, en die groeiende kompleksiteit van korrupsiesake.”

Die NVG se uitgebreide benadering bou voort op vorige ervaring en praktyk.

“Dit begin met strategiese saak-koördinering en prioritisering van belangrike sake en strek tot by die aanwending van die land se voorste senior advokate en ander plaaslike en internasionale kundiges om aanklaers en ondersoekers van die ondersoekdirektoraad (OD) in hul werk te ondersteun.”

Volgens Mhaga moet ervare advokate en ander kundiges die NVG se spesialispersoneel ondersteun.

“Dit sal verseker dat die NVG alle aspekte van hierdie komplekse sake op ʼn volhoubare en gekoördineerde wyse met die beste beskikbare hulpbronne kan hanteer.”

Volgens Mhaga sal die NVG ook die gebruik van sy bestaande interne saakadviespanele uitbrei om te verseker dat die mees ervare aanklaers in die NVG hul kundigheid beskikbaar stel vir prioriteitsake, hoofsaaklik oor die vraag of die standaard van bewyslewering nagekom word.

“Die NVG sal dalk nie altyd slaag in die sake wat hy vervolg nie en die rol van ʼn aanklaer is nie om ten alle koste ʼn skuldigbevinding te verseker nie, maar om alle relevante en toelaatbare getuienis voor die hof te plaas, in die soeke na geregtigheid,” sê Mhaga.

“Met betrekking tot staatskaping en ander ingewikkelde korrupsiesake volg die NVG ʼn meer strategiese en gefokusde benadering, wat hoogs ervare bykomende hulpbronne toewys om die kanse vir geregtigheid en aanspreeklikheid te verbeter.

“Hierdie uitgebreide benadering sal ons in staat stel om dit te kan doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

En daar val ek van my stoel af van die lag. Sodra dit nou lyk asof hulle totaal nutteloos is dan kom hulle skielik met ‘n plan voorendag. In die geval versterk hulle kapasiteit om korrupsie-, staatskapingsake te vervolg…..ha ha ha he he he ha ha ha he he he. Batohi is soe nutteloos as Shaun die Skaap!

Elizabeth ·

Ons kan nie stry dat die afdeling ñ tekort aan bemanning het nie. Kom ons gee hulle nog ñ kans?

Herman L ·

Die NVG is die enigste hoop dat ons ooit vordering teen korrupsie kan maak. Ons kan hulle kritiseer vir hulle foute, maar ons moet hoop dat hulle voldoende fondse kry om hulle werk behoorlik te doen.

Shakespeare ·

Nuttelose NVG blêr weer niksseggende klanke uit hulle monde uit.

Elizabeth ·

Ons wag in spanning. Moenie mooi broodjies bak. Doen waarvoor julle betaal word without fear or favour.

annie ·

…. en? Niks gaan weer gebeur nie buiten werkers se salarisse opstoot en nog ‘n gespog en beloftes vir vinnig optrede. Gelukkig is die Spur vinniger met hul geregte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.