NWU skort klasse op midde Potch-waterkrisis

Hoofgebou-potchefstroomkampus1

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (Foto: Maryke Laas/NWU)

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het kontakklasse op sy Potchefstroomkampus vir minstens die volgende week opgeskort weens die waterprobleme wat in die dorp en omliggende gebiede ervaar word.

Volgens die universiteit is daar steeds nie genoeg watertoevoer om reservoirs op die kampus te kan volmaak nie en is daar dus nie die nodige waterdruk in krane in die akademiese geboue en koshuise nie. “Weens die huidige gebruik op kampus versleg die situasie ernstig, veral in koshuise,” het prof. Daryl Balia, adjunkvisekanselier van die NWU se Potchefstroomkampus, gesê.

Daar is om die rede besluit om onmiddellik alle kontakklasse vir minstens die res van die week op te skort en klasse aanlyn voort te laat gaan waar moontlik.

Alle personeellede op die kampus, behalwe diegene wat noodsaaklike dienste lewer, is versoek om tuis te werk totdat die waterkrisis opgelos is. “Personeel wat op kampus moet wees, word versoek om slegs van badkamergeriewe op die grondverdiepings van die onderskeie geboue gebruik te maak om voortgesette behoorlike higiënedienste te verseker.”

Alle gradeplegtighede wat vir die komende week geskeduleer is, sal voortgaan soos gereël. Die Varsitybeker-wedstryd wat vir Maandag geskeduleer is, sal ook voortgaan aangesien alle nodige gebeurlikheidsmaatreëls ingestel is.

“Ons fokus tans is om te verseker dat koshuise van die nodige bystand voorsien word. Personeel en studente wat absoluut op kampus moet wees, word versoek om voort te gaan om water spaarsamig te gebruik. Op hierdie stadium het ons geen aanduiding wanneer die situasie ten volle opgelos sal wees nie, maar verwag dat die situasie die hele week dieselfde sal bly.”

Die JB Marks-munisipaliteit het intussen die krisis toegeskryf aan lekkasies op sy netwerktoevoerpype wat “oud en broos” is en in afgeleë gebiede geleë is wat toeganklikheidsuitdagings skep.

Daar is reeds verskeie lekkasies geïdentifiseer. “Die pypleiding verloor duidelik ’n aansienlike hoeveelheid water en die lekkasies beïnvloed ons vermoë om die Ventersdorppad-reservoirs te vul wat alle streke wes van die Mooirivier in die Potchefstroomstreek voorsien.

“Die munisipaliteit betreur enige probleme wat dit kan veroorsaak en verseker inwoners dat ons alles in ons vermoë sal doen om die nodige herstelwerk so gou moontlik af te handel om enige vertragings tot die minimum te beperk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cassie Carstens ·

Is daar dan niks wat die ANC geleide munisipaliteite reg kan doen en beplan nie???

Shakespeare ·

Laat die gepeupel regeer en sulke gevalle sal normaal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.