‘o.19-krieketkaptein se menseregte is oortree’

David Teeger (Foto: Maccabi South Africa/Facebook)

Die besluit deur Krieket Suid-Afrika (KSA) om sy o.19-krieketkaptein, David Teeger, van sy kapteinskap te stroop, glo op grond van sy geloof, is ʼn skending van die Grondwet se Handves vir Menseregte.

Só sê Veronica van Dyk, die DA se adjunk-skaduminister oor sport, kuns en kultuur.

Maroela Media het vroeër berig Teeger sal vir die duur van die Krieketwêreldbeker vir o.19’s, wat volgende week in Suid-Afrika begin, weens veiligheidsvrese met ʼn ander kaptein vervang word.

Teeger het in Oktober toe hy as opkomende ster van Absa se pryse vir Joodse uitblinkers aangewys is, gesê die ware sterre is jong soldate in Israel met verwysing na die konflik tussen laasgenoemde en Hamas. KSA sê nou, soos met alle ander soortgelyke byeenkomste, ontvang hy gereelde veiligheids- en risiko-ontledings oor die Wêreldbeker.

“Ons het inligting ontvang dat betogings wat verband hou met die oorlog in Gaza by venues vir die toernooi verwag kan word,” lui ʼn verklaring van KSA. Die inligting het ook daarop gedui dat die betogings waarskynlik gaan fokus op Teeger se posisie. “Daar is ʼn risiko dat dit kan aanleiding gee tot konflik of selfs geweld, insluitend betogings tussen vyandige groepe.”

“KSA is mislei,” sê Van Dyk. “Sy primêre plig is om te voldoen aan die Handves van Menseregte, soos vervat in die Grondwet van Suid-Afrika. Dit verbied uitdruklik direkte of indirekte diskriminasie op grond van, onder andere, geloof, etniese of sosiale oorsprong, bewussyn, oortuigings en kultuur.”

Van Dyk meen die besluit word vererger in die lig dat die huidige voorsitter van KSA, Lawson Naidoo, ook die uitvoerende sekretaris is van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet en homself gereeld voorhou as ʼn verdediger van menseregte.

“Deur die knie te buig voor dreigemente van geweld, het Naidoo en die organisasie soos lafaards opgetree en die waardes van die Handves vir Menseregte verraai. In plaas daarvan om voor boelies neer te buig, het KSA ʼn plig om die wet te onderhoud. Dit beteken dat hulle die regte van spelers moet beskerm, insluitend hul reg op vrye uitdrukking, geloof en oortuiging, teen diegene wat geweld teen hulle wil pleeg.”

Van Dyk sê dié presedent kan ʼn gevaarlike weg baan. “Sal KSA volgende die kapteinskap van ʼn Moslemspeler stroop as anti-Moslemgroepe dreig om te betoog? Sal spelers uitgeskop word as rassiste met geweld dreig oor hul velkleur?”

Die DA versoek KSA om onmiddellik die besluit om te keer. “Versuim om dit te doen sal ons noop om ʼn formele klag by die Menseregtekommissie in te dien. Ons sal ook verdere stappe oorweeg.”

SAZF veroordeel ook KSA se besluit

Die Suid-Afrikaanse Sioniste Federasie (SAZF) het ook die besluit deur KSA ten sterkste veroordeel.

“Dit is ʼn blatante optrede van diskriminasie en antisemitisme teen ʼn Joodse speler,” sê Despina Harito, woordvoerder van SAZF.

“Die optrede teen Teeger, wat Joods is, bloot gebaseer op sy geloofsidentiteit en persoonlike oortuigings, is uiters kommerwekkend en stel ʼn gevaarlike presedent vir sport in die land. Dit is ʼn belediging vir die waardes van diversiteit, inklusiwiteit en die gees van sportmanskap wat krieket en alle sportsoorte veronderstel is om te vergestalt.”

Harito sê KSA se redes is nie oortuigend nie. “Die organisasie het ook versuim om te verduidelik hoekom hy nie in staat of bereid is om die gewone veiligheidsmaatreëls in plek te stel om die veiligheid van deelnemers en toeskouers te verseker nie.”

Die SAZF doen ʼn beroep op KSA om ʼn volledige en deursigtige verduideliking te verskaf vir die druk wat tot die besluit gelei het.

“Ons eis ook ʼn onmiddellike verskoning van KSA vir mnr. Teeger en versoek dat hy weer ingestel sal word as die kaptein van Suid-Afrika se o.19-krieketspan.”

Volgens Harito pas die Internasionale Krieketraad (ICC) ʼn streng teendiskriminasie-beleid toe om seker te maak dat enige vorm van rassisme of diskriminasie op grond van ras, geloof of etniese oorsprong verhoed word. “Ons sal die ICC versoek om KSA se optrede te ondersoek.”

Harito sê alle sportliefhebbers in Suid-Afrika moet bekommerd wees. “Die ANC-regering se politieke vyandigheid jeens Israel en sy ondersteuning aan Hamas het ʼn klimaat geskep waar dit heeltemal aanvaarbaar geword het om ʼn sportman te teiken net omdat hy Joods is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Dit is blatante anti-semitisme van KSA se kant af. Ek hoop iemand meld dit by die MRK aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.