OB-komitee: Madonsela moet kom getuig

Prof. Thuli Madonsela (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Adv. Thuli Madonsela, voormalige Openbare Beskermer (OB), moet voor die parlement se artikel 194-komitee, wat gelas is met die proses oor die moontlike verwydering van adv. Busisiwe Mkhwebane as OB, kom getuig.

Die komitee het Dinsdag besluit om toe te stem tot Mkhwebane se versoek om haar voorganger te dwing om voor die komitee te verskyn om te getuig.

Qubudile Dyantyi, voorsitter, het gesê die komitee stem saam dat Madonsela waarde tot die proses kan toevoeg. Daar is ook ingestem tot die versoek om Bianca Mvuyana, ’n ondersoeker in die kantoor van die OB, te laat roep om te getuig.

Die komitee het verder beraadslaag oor die OB se aansoek om DA-LP Natasha Mazzone, die adjunk-OB en huidige waarnemende OB, adv. Kholeka Gcaleka, en minister Pravin Gordhan te dagvaar om voor die komitee verskyn. Die komitee het egter besluit om hierdie aansoeke van die hand te wys.

“Daar is gevoel dat om hulle voor die komitee te bring nie waarde sal toevoeg tot die werk en mandaat van die komitee nie. Lede het ingestem om te werk met die dokumente wat reeds deur hierdie persone in ander forums verskaf is,” het Dyantyi gesê.

Mkhwebane se versoek dat pres. Cyril Ramaphosa as getuie geroep moet word, is ook van die hand gewys.

Die komitee het verder besluit om Rodney Mataboge, ’n ondersoeker in die kantoor van die OB, te versoek om die komitee by te staan, aangesien hy nou saam met Mvuyana gewerk het. ’n Versoek sal ook aan adv. Kevin Malunga, voormalige adjunk-OB, gerig word om voor die komitee te getuig.

Om hierdie twee getuies te roep is ’n inisiatief van die komitee en nie op versoek van die OB nie. Die komitee het ingestem dat indien hulle die uitnodiging van die hand wys, hulle gedagvaar sal word.

Dyantyi het gesê daar sal nou in alle erns begin word om die getuienis van die betrokke getuies te kry ten einde die komitee se werk op 21 April af te handel. Die verhore sal Maandag hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Henri ·

Nog belastinggeld wat vermors word op ‘n heksejag wat op niks gaan uitloop. Nes die staatskapingsondersoek. Hulle speel vir die skare.

Wat op dees Aarde ·

Hmmm… Thuli Madonsela sal die waarheid praat. Sy draai nie doekies om nie en was die beste OB wat die land nóg geken het. Ek is seker sy sal teen Mkhwebane getuig. Omdat sy baie aktief is op sosiale media veral Twitter en menigmaal haar opinie lug, is dit duidelik dat sy Mkhwebane afkeur. Sy was veral aktief met die menige verslae van Mkhwebane wat deur die howe van die hand gewys is. Mkhwebane was net daar om die korruptes te beskerm, onder andere, Julius Malema, Jacob Zuma en Ace Magashule. Hopelik sodra sy verwyder is, gaan die vonke spat. Die waarnemende OB is ook nie bang vir die RET faksie nie, en ek is seker daar gaan ‘n hele paar geraamtes uit die kas tuimel in die nabye toekoms.

Aanhouer ·

Wat ñ deurmekaarspul. As dit nie so kommerwekkend was nie, kon dit moontlik lagwekkend wees. Nog ñ dag in Suid Afrika.

Danie ·

Ek het dit verwag die komitee weet nie wat om verde te doen nie hulle wil nie die bad guys wees nie.Jaag die slegte ding weg en kry klaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.