OB-komitee se getuienisleier bly  

Adv. Nazreen Bawa (links voor) (Foto: @JustSecuCluster/Twitter)

Die parlement se artikel 194-komitee, wat gelas is met die proses oor die moontlike verwydering van Busisiwe Mkhwebane as Openbare Beskermer (OB), het adv. Nazreen Bawa SC se besluit om haar nie as getuienisleier te onttrek nie, aanvaar.

Die UDM het ʼn aansoek ingedien vir die verwydering van Bawa.

Qubudile Dyanti, voorsitter van die komitee, het gesê dat 12 van die 14 lede van die komitee nie ten gunste daarvan was dat Bawa haar onttrek nie.

Die EFF was egter van mening dat Bawa haar moet onttrek om die integriteit van die komitee te beskerm.

Die UDM het aangevoer dat dit onder hul aandag gekom het dat Bawa betrokke is by regsgedinge waar haar optrede glo bevraagteken word oor ʼn kwessie wat daartoe kan lei dat sy strafregtelik vervolg kan word.

In reaksie hierop het Bawa aangevoer dat sy nie ʼn besluitnemer of ʼn lid van die komitee is nie. Sy het ook opgemerk dat die klaers nie gewys het op enigiets wat sy tydens die komitee se werk gedoen het en dus as getuienisleier verwyder moet word nie.

Bawa het ook aangevoer dat sy nie ingemeng het met enige vervolgings deur die Nasionale Vervolgingsgesag of enige ondersoek na misdadige optrede nie.

Rakende bewerings van klagtes teen haar by professionele liggame, het sy gesê dat sy onbewus is van enige strafregtelike ondersoeke wat teen haar hangende is.

Dyantyi het gesê die boodskap van komiteelede is duidelik: “Ons moet op ons mandaat gefokus bly. Maar terwyl ons dit doen, wil ek lede versoek om hul oë en ore oop te hou.”

Hy het verder beklemtoon dat alle korrespondensie wat na die komitee gebring word vir bespreking die toets van relevansie moet slaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Hoe lank nog? Kan dit so moeilik wees om vir die vrou te sê jy is onbevoeg en kry jou ry? Oor ‘n maand gaan alles tot stilstand kom want die Desember. Nee o genade

David ·

Wonder wat kos die episode die regering? Hoeveel huise kon hulle nie met daardie geld gebou het nie?

Roek ·

Nee wat kos dit die belasting betaler die regering het ‘n bodemlose put wat finansies aan betref. ONS betaal !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.