Ocean View: Vier huise brand; twee vas oor moord

Emaan Solomans (Foto: Facebook)

Twee mans, onderskeidelik 19 en 27 jaar oud, is in hegtenis geneem ná ʼn sewejarige meisie en 31-jarige man in die kruisvuur van bendes gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig die meisie, Emaan Solomans, en die onbekende man het in Librastraat in Ocean View in die Wes-Kaap in die bendes se kruisvuur beland. Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee verdagtes sal Vrydag in die landdroshof in Simonstad verskyn.

Vier huise is intussen in die omgewing aan die brand gesteek. “ʼn Groep onbekende mans het na bewering die huise aan die brand gesteek. Die polisie ondersoek ʼn saak van brandstigting.”

Jermaine Carelse, woordvoerder van Kaapstad se brand- en reddingsdiens, het gesê die brandweer is Donderdagoggend omstreeks 01:25 na Apolloweg in Ocean View ontbied. “Kommetjieweg- en Vishoek-brandweer het reageer en is onder polisiebegeleiding na die toneel. ʼn Dubbelverdiepinghuis het in ligte laaie gestaan. Die brand is omstreeks 03:31 geblus,” het Carelse verduidelik.

“Terwyl hulle op die toneel was, is berigte ontvang van ʼn tweede brand in Scorpioweg. Simonstad-brandweer het reageer en hulle is ook deur die polisie vergesel. Die huis is heeltemal verwoes in die brand. Daar was ook berigte van huisbrande in Alphastraat, maar die brandweer is deur die SAPD afgeraai om te reageer, omdat die atmosfeer in die gebied uiters gespanne was.”

Potelwa het gesê ʼn ernstige waarskuwing word aan alle gemeenskappe gestuur om nie die reg in eie hande te neem nie. “Die polisie sal in só geval geen ander opsie hê as om die verantwoordelike persone in hegtenis te neem nie.”

Potelwa het gesê beamptes van die teenbende-eenheid, openbare-orde-eenheid, nasionale ingrypingseenheid, Stad Kaapstad se wetstoepassers en polisiebeamptes van naburige polisiestasies bly op die toneel totdat gemoedere kalmeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Het die brigadier al ooit gewonder waarom mense reg in eie hande neem ?

Johan Venter ·

marius, dalk moet almal by stemdag die reg in eie hande neem en vir ‘n nuwe regering stem wat vir almal omgee. die probleem is dié wat die swaarste kry word uitgebuit en as stemvee gebruik, hulle is die mense wat omgee- en aandiehandvat die nodigste het.

Ek wens ons almal, die regering inkluis, kan saam met ons tjokkers agter skoenlappers aan hardloop.

Johan Venter ·

Kan die gemeenskap van Ocean View, die Kaapse Stadsraad, of die Provinsiale regering daar, nie ‘n standbeeld ter ere van Emaan Solomans oprig om die begin van die einde van bendegeweld in die Wes-Kaap te herdenk nie, dat haar dood die gemeenskap tot orde geroep het en ‘n aansporing was om hul leefwyse in heroënskou te neem vir ‘n nuwe lewe wat hul kinders die kans op ‘n toekoms as grootmense bied, en wat weer aan hul kinders oorgedra word?

Daar kan dan mos jaarliks op ‘n sekere datum ‘n byeenkoms op die terrein gehou word om die einde van bendegeweld te herdenk, daartydens kan sprekers die geleentheid kry om die mense toe te spreek en van die omkeer in hul lewe te vertel.

Wat ‘n voorbeeld en aansporing sal dit nie vir die res van die land wees om na te volg nie!

J ·

Omtrent tyd dat gewone wetsgehoorsame mense begin terugveg teen drank en dwelm handelaars.

In baie ander lande kry dwelmhandelaars die DOODSTRAF … !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.